NewsNews

#ImStaying skep weer hoop

#ImStaying skep weer hoop

Daar is nog baie Suid-Afrikaners wat steeds in die reënboognasie glo. Die sukses van die Facebook-groep #ImStaying bewys dit.

Die groep, wat positiewe, eendersdenkende Suid-Afrikaners saamsnoer en hoop inspireer deur opregte boodskappe te deel, is deur die Kaapstadse eiendoms-entrepreneur, Jared Petzer gestig om sy emosies en toewyding hoorbaar te maak. In minder as ’n maand se tyd staan byna ’n halfmiljoen ander saam met hom op en sê: “Ek bly.”

Dit word beskou as die vinnigste groeiende groep op Facebook en toon dat mense wil help en bymekaar wil kom om verandering te bewerkstellig.

“Dit is besig om mure af te breek. Duisende hartverblydende plasings wys dat ons besig is om verby kleur, politiek en ander nonsens te kom.” Petzer, wat sy span van 15 vrywilligers reeds moes uitbrei, is van plan om #ImStaying ‘n katalisator vir entrepreneurskap en werkskepping te maak.

Intussen stroom die plasings in met getuienisse wat wissel van mense wat hulp van goeie Samaritane ontvang het nadat hulle petrol op afgeleë Vrystaatse paaie opgeraak het, tot Thabo Selepe se “Ek is trots om uiteindelik deel te wees van ’n groep wat ons land , sy mense en diversiteit liefhet.”

“Die sukses van die groep is waarskynlik te danke aan bevestigingsvooroordeel – iets wat gebeur wanneer mense met ’n dilemma worstel en aanmoediging ter ondersteuning van hul keuse nodig het,” meen ‘n KwaZulu-Natalse sielkundige, wat om professionele redes nie genoem wil word nie. Facebook-plasings vertel egter ’n ander storie – die oorgrote meerderheid doen dit omdat hulle voel Suid-Afrika is hul huis.

Howard Feldman, entrepreneur, besigheidstrateeg en skrywer sê: “Die feit dat so baie mense reeds by #ImStaying aangesluit het, spreek van die desperate behoefte aan positiwiteit. Dis ook my eie ervaring. Ek word daagliks gevra om individue en ondernemings te help om ‘n meer optimistiese uitkyk te verkry. Want niemand slaag in ‘n negatiewe en neerdrukkende toestand nie.”

Dit is dus belangrik om aktief te soek na redes vir optimisme. Dit beteken egter nie dat ons blind moet wees vir die groot uitdagings en probleme waarmee ons land gekonfronteer word nie. Dit het dit tyd geword om ons daartoe te verbind om dit wat verkeerd is uit te daag, of ten minste die organisasies te ondersteun wat dit doen. Ons moet ook beduidende positiewe verwikkelinge erken as dit sigbaar is en so hoop help skep.

Daarom pleit Mike Abel, hoof uitvoerende beampte van M&C Saatchi Abel, deel van ‘n internasionale netwerk vir reklameagentskappe, namens #ImStaying: “’n Beweging (onvolmaak soos dit mag wees) wat ten diepste bedoel is om mense bymekaar te bring, eerder as om hulle uitmekaar te dryf, verdien ons ondersteuning.”

Critici reken dit is maklik om te sê jy bly as jy die opsie het om te vertrek wanneer jy wil. Ander is weer van mening dat dit juis daarom groter betekenis het. Nog kritiek is dat dié wat aansluit geen ander keuses het nie, en daarom span hulle saam. Maar die waarheid is dat daar baie in hierdie pragtige land van ons is, wat ons kan laat kies om te bly.

Vir diegene wat volhou dat dit ’n groep vir die elite-middelklas is, lewer Lucky Matseko die volgende Facebook-kommentaar: “Of jy nou swart of wit is, dit is nie ’n sonde om middelklas te wees nie. Ons moenie toelaat dat aantuigings soos dié, gemaak deur mense wat ons wil laat skuldig voel en die goeie werk wat begin is wil vernietig, ons ontspoor nie.”

Die groep gáán foute maak. Dit het immers vanaf een persoon na byna 500 000 gegroei in minder as ’n maand – met geen betaalde werknemers, slegs vrywilligers – en mense wat plasings doen oor dit wat vir hulle belangrik is. Kom ons help eerder as om te veroordeel. Dit is immers bedoel om positief, patrioties te wees, om haat te beveg, rassisme teen te staan en hoop in ons samelewing aan te vuur.

Meeste van ons eggo tog Sanet Dixon se sentiment: “Ek het gedroom van hoe ons as Suid-Afrikaners met mekaar begin praat. Mekaar se hande neem en teen alle verwagtinge in, met integriteit ‘n nasie begin bou wat so sterk is dat niks en niemand ons ooit weer kan verdeel nie … Daardie droom is besig om waar te word. #ImStaying.”

 

Related Articles

Back to top button