NewsNews

Bome vir honde se koelte aangeplant

VANDERBIJLPARK. – Een van die groot voordele van bome is die koelte wat hulle verskaf en waaronder mens en dier kan lafenis soek. Dit is nou afgesien van die suurstof wat hulle produseer en die vermoë wat hulle het om koolstofdioksied te absorbeer en op dié wyse help om klimaatsverandering te voorkom. AfriForum se Vanderbijlpark-tak …

VANDERBIJLPARK. – Een van die groot voordele van bome is die koelte wat hulle verskaf en waaronder mens en dier kan lafenis soek.

Dit is nou afgesien van die suurstof wat hulle produseer en die vermoë wat hulle het om koolstofdioksied te absorbeer en op dié wyse help om klimaatsverandering te voorkom. AfriForum se Vanderbijlpark-tak het op Saterdag 14 September as deel van hul jaarlikse boomplantmaandprojek altesaam 50 skadubome by Vaal Pets, ’n skuiling vir meer as 200 verwaarloosde honde wat uit haglike omstandighede gered is, aangeplant.

Volgens AfriForum se hoof vir omgewingsake in Vanderbijlpark, Ruan Oosthuizen, het hulle op die dag 10 kareebome (Searsia lancea), 10 witkareebome (Searsia pendulina), 10 witstinkhoutbome  (Celtis africana), 10 olienhoutbome (Olea europaea subspesie cuspidata) en 10 valsolyfbome (Buddleja saligna) aangeplant.

Al hierdie bome is baie goed vir die verskaffing van koelte. Volgens Dewet Ungerer, AfriForum se assistentkoördineerder vir die Wes-Rand, beoog die organisasie om vanjaar landwyd meer as 3 000 bome te plant.

“Deur inheemse bome te plant bewaar ons nie net ons omgewing en maak dit ’n mooier plek om in te bly nie, maar ons wys ook dat ons hoop vir die toekoms het.

Bome is veel meer as bloot ’n belangrike deel van die ekostelsel of ’n noodsaaklike natuurlike hulpbron – bome is simbolies van lewe,” sê Ungerer.

AfriForum fokus jaarliks op sowel ’n boomspesie wat algemeen voorkom as ’n skaars boomspesie. Die algemene boom vir 2019 is die maroela (Sclerocarya birrea), terwyl die skaars boom die appelblaar (Philenoptera violacea) is. AfriForum moedig sy lede aan om inheemse bome te plant wat in hul omgewings aard.

“Boomplantmaand bied die perfekte geleentheid om ’n blywende verskil in ons gemeenskappe te maak. Bome het egter deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer en die friForum-tak in Vanderbijlpark onderneem om hierdie sorg te verskaf. Dit is simbolies daarvandat ons hier is om te bly en hoop vir die toekoms het,” meen Ungerer.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by die projek betrokke te raak en deel te word van ’n groener toekoms. Danielle van Rooyen, eienaar van Vaal Pets, het AfriForum bedank vir hulle hulp.

“Hierdie plek gaan oor ’n paar jaar ’n lushof wees,” het sy gesê. Vaal Pets is in 2013 deur Van Rooyen

begin vir weggooihonde. Daar is tans sowat 200 honde wat op die stuk grond van ongeveer 4 ha gehuisves word. Volgens Van Rooyen is die township een van Vaal Pets se fokuspunte.

Hulle bied gesondheidsorg, opleiding en liefde aan honde, sowel as raad en bystand aan die eienaars van troeteldiere. Volgens hom beplan hulle ook ’n inentingsaksie in die township.

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button