News

Kolon-ondersoeke: Lesers neem goeie raad ter harte

Kolon-ondersoeke: Lesers neem goeie raad ter harte

Poliepe in die maagdermkanaal veroorsaak geen simptome nie en mens is dus nie bewus daarvan dat iets verkeerd aan die ontwikkel is nie. Om dié rede kan dit maklik voortwoeker en kanker veroorsaak sonder dat jy daarvan weet. Dié soort kanker is tans in die kollig omdat dr. Steve Abrahams, die plastiese chirurg in die sepie Binnelanders, nou deur die behandelingsproses van dié soort kanker worstel.

“Deur voorkomend op te tree, kan pasiënte dié trauma gespaar word – om nie eers te praat van die hoë koste van gevorderde kankerbehandeling nie,” sê dr. Ben Rautenbach, ‘n semi-afgetrede spesialis-chirurg wat in sy kliniek vir kolon- en boonste maagdermkanaal-ondersoeke en prosedures in Wonderfontein, Sasolburg, praktiseer.
Na dekades in die mediese beroep is hy maar te bewus van die pyn en lyding wat met gevorderde kanker gepaard kan gaan. Ster het verlede jaar reeds berig dat sterftes weens kolonkanker tot 90% verminder kan word as ‘n kolonoskopie van die onderste maagdermkanaal (kolon) betyds uitgevoer word. Omdat dié kanker pynloos kan voortwoeker, is min mense egter daarop ingestel om hulle betyds te laat ondersoek – totdat dit dalk te laat is.
Dit is egter verblydend dat baie inwoners van die Vaaldriehoek dr. Rautenbach se waarskuwing in Ster ernstig opgeneem het, en na die plasing
van die artikel wél ‘n kolonoskopie laat doen het.

“Ongelukkig sien ons nog te veel pasiënte wat te laat kom vir die ‘screening’- ondersoek en dan reeds kanker het,” sê hy. “Sowat 20% van die pasiënte wat  danksy die berig gekom het, het wel poliepe in die kolon gehad, wat maklik en pynloos verwyder kon word. Die ontwikkeling van kanker kon sodoende voorkom word. Hierdie pasiënte sal jaarliks weer ‘n kolonoskopie ondergaan om die ontstaan van verdere poliepe vas te stel en te verwyder
indien daar weer poliepe waargeneem word,” sê dr. Rautenbach. Hy verduidelik dat ‘n poliep ‘n groeisel is wat met ‘n steeltjie aan die kolonslymvlies geanker is – soos ‘n sampioen wat op die grond groei. Die steeltjie kan maklik tydens die ondersoek deur die kolonoskoop, deurgebrand word om sodoende ontslae te raak daarvan. Indien dit groter as 3 cm word, begin die kanker op die punt daarvan ontwikkel.
Dr. Rautenbach beskou dit as sy lewenstaak om die voorkoms van kanker te verminder en wil die publiek en veral geneeshere weer eens daarvan
bewus maak dat mense nie moet wag totdat simptome ontstaan voordat ‘n “screening”-kolonoskopie gedoen word nie, want dan is dit gewoonlik reeds te laat.
Almal van 40 jaar en ouer behoort die ondersoek as voorkoming te laat doen. Indien daar niks gevind word nie, kan die kolonoskopie eers na 10
jaar weer gedoen word. Mense wat ‘n familielid het wat wel kolonkanker gehad het, moet die ondersoek selfs op ‘n jonger ouderdom as voorsorg laat doen. Belangstellendes wat meer oor kolonkanker of kolonoskopie-ondersoeke wil uitvind, kan dr. Rautenbach en sy span by 081 357 7794 skakel.

Related Articles

Back to top button