NewsNews

Nuwe tuiste vir Alfa 2020

Parys sal nie aanstaande jaar weer die gasdorp vir die baie gewilde Alfa Ekspo wees nie.

Graan SA en ALFA vat hande, en sal in September 2020 die heel eerste NAMPO ALFA Lewendehawe-, Jag en Buitelewe-ekspo op Nampo Park net buite Bothaville aanbied.
Volgens die organiseerders is hierdie ’n belangrike stap in die groei van ALFA, en sal dit aan die ekspo ruimte bied om sy vlerke te sprei, veral omdat daar tans ook ‘n behoefte onder produsente is vir ’n jag- en buitelewe-ekspo wat sentraal geleë is.
Die aankondiging is gemaak aan die einde van vanjaar se ekspo wat met heelwat rekords kon spog, en die AfriDome in Parys van 17 tot 19 September behoorlik uit sy nate laat bars het.
Vanjaar kon liefhebbers en produsente van groot- en kleinvee hulle verlustig in die talle rasse wat uitgestal is. ’n Totaal van 5 813 besoekers het stalletjies besoek, diere besigtig en toegekyk hoe die room van die land se vee beoordeel is.
’n Totaal van 134 telers het hul diere na ALFA gebring, en dit het gesorg vir die teenwoordigheid van 311 vleisbeeste wat 30 rasse verteenwoordig het, 29 melkbeeste van drie rasse, en 221 kleinvee van 26 verskillende rasse.
Daarbenewens kon belangstellendes hulle ook verkyk aan varke, honde, perde, konyne, hoenders en selfs sierduiwe.
Daar was ‘n volgepakte program van demonstrasies, werkswinkels, konferensies en kompetisies.
Die FNB Landbouskool van die Jaar-trofee het aan die Hoërskool Merensky gegaan. Dié skool het die hoogste gemiddeld van al die aktiwiteite in vanjaar se ALFA-skoleprogram behaal.
Morgenzon Landbou-akademie het die Veeplaas Skole vasvrakompetisie gewen.
Die landboujeug kon tydens vanjaar se PLAAS Landboujeugstigtingskonferensie onder meer geïnspireer word deur Anita Browne, vanjaar se Agri Gauteng Jongboer van die Jaar, en Rikalize Reyneke, ’n graad 11-leerder van Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria en eienaar van La Pieus Aqua.

Related Articles

Back to top button