NewsNews

‘Mens dink dit sal net met iemand anders gebeur’

Dit is die woorde van ‘n jong man van Deelkraal wat die afgelope week deur onwettige myners, ook bekend as “zama-zamas” aangeval is.

Volgens mnr. Dewald Swart het hy Saterdag omstreeks 10:00 by sy werk by Kusa-salthu goudmyn klaargemaak en kon hy vroeër as gewoonlik huis toe gaan. Hoewel ‘n familielid hom in die oggende by die werk gaan aflaai, loop hy altyd self terug.
Saterdag se tog terug huis toe het egter in ‘n nagmerrie verander.
Swart het deur die veld huis toe gestap toe ‘n man met ‘n balaclava op hom afstap.
“Hy het vir my gesê ek moet plat gaan lê en het toe op my kop getrap,” sê Swart.
Die man, tesame met een van sy trawante, het Swart in die ribbes geskop en sy sakke deursoek. Die een man het ook ‘n rewolwer teen sy kop gedruk.
Die mans, wat albei gemasker was, het sy selfoon, asook sy rugsak met klokkaart in gegryp. Gelukkig het hulle die rugsak met die kaart vir hom teruggegooi voor hulle weggestap het. Swart het hom so gou moontlik huis toe gehaas.
“Ek is ook al ‘n vorige keer, sowat ‘n jaar gelede aangeval ná ek deur ‘n gat in die draad geklim het om op daardie pad werk toe te gaan. Ek gebruik nie meer daardie pad nie. ‘n Mens dink altyd só iets sal net met iemand anders gebeur.
Ek sal nou probleer om veiliger te wees,” sê hy. Swart se familie het ook onderneem om hom van nou af in die middae by die werk te gaan haal.
Volgens hulle is die zama-zamas ‘n baie groot probleem in die Deelkraal-omgewing.
“Hulle loop sommer hier in ons straat verby na die winkel toe. Die polisie weet hulle is hier, want mens sien amper elke dag hulle bakkie, maar hulle doen niks nie. Dit lyk of hulle bang is vir dié mense,” sê Swart.

Related Articles

Back to top button