NewsNews

Najaarsrus vier 50 jaar

En wat ‘n fees was dit nie!

Najaarsrus Tuiste vir Bejaardes het die afgelope naweek sy halfeeu bestaan kleurryk gevier met van Volkspele danse tot mampoer proe.


Die tehuis se terrein was van vroegdag die ene bedrywigheid, met inwoners en hul familie wat in die netjies versorgde tuin bederf is met lekkernye, sang en kitaarspel deur verskeie kunstenaars, en die vrolike volkspele danse van die Vaalrivier-laer van Vanderbijlpark.


Vyftig ballonne en vliegduiwe is die lug ingestuur en daar is tot laat nog saamgekuier en geëet om dié groot dag te vier wat moontlik gemaak is deur talle sakelui, instansies en individue wat met ‘n oop hand bygedra het om dié tehuis se inwoners te kon trakteer. En wat ‘n fees was dit nie!


Een van die tehuis se inwoners, die 97-jarige tannie Bettie Theron, onthou nog soos gister hoe die tehuis destyds gebou is. Sy is hier gebore en het hier skoolgegaan. Haar ouers het destyds op die perseel langs Pula Build-it gebly.


Die grond tussen Dolf-, Father Balink-, Schilbach- en Promenade strate het twee burgererwe ingesluit, en onthou sy hoe die ingang van die tehuis soos inwoners dit vandag ken, destyds ‘n tweespoor paadjie was tussen die wonings van die eertydse landdros van Parys, mnr. Van Zyl, en skoolhoof van die Hoërskool, mnr. Van Huyssteen.
Laasgenoemde se huis was waar die hoofgebou van Najaarsrus vandag is.
Tannie Bettie vertel dat dit aanvanklik regeringsgrond was wat deur die destydse munisipaliteit onteien is weens agterstallige gelde, en toe in 1965 geskenk is vir die ontwikkeling van ‘n aftreeoord in Parys. Daar is voorgestel dat die NG Kerke in Parys beheer oor die tehuis moes neem en ‘n opname moes maak van bejaardes wat belang sou stel om in die tehuis geakkommodeer te word. Haar ouers, Stoffel en Bettie le Roux, se name was ook op die lys. Met haar ma se afsterwe in 1968 was die tehuis nog nie klaar gebou nie. Me. M. Vorster, eggenote van die destydse eerste minister, John Vorster, het die tehuis net ‘n jaar later op 16 Augustus 1969 amptelik geopen.
Die amptelike ingebruikneming van die groter Najaarsrus is gedoen in Mei 1985.
Tans beskik Najaarsrus oor ‘n dienstesaal, eetsaal, siekeboeg, 136 beddens en 74 meenthuise met Elbé Ferreira en haar bekwame span aan die stuur van die tehuis. Vandag vorm die uitbreiding, Goue Jare, in Rubinstraat met sy 21 meenthuise, ook deel van Najaarsrus.
Tannie Bettie en haar man, Gawie, het in 1987 in Parys kom aftree. In 2007 trek hulle in by Najaarsrus, waar hy in 2009 oorlede is.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button