NewsNews

Vaal se waterhiasinte so beheer

Vaal se waterhiasinte so beheer

Die probleem met waterhiasinte in die Vaalrivier word nou aangespreek met spanne van GreenThorn wat Vrydag begin het met die uithaal van die hiasinte by onder meer die Mimosa Tuine en Gholfeiland.
Die Departement van Omgewingsake het Greenthorn Environmental Solutions se aansoek vir verskeie projekte goedgekeur. Een van die projekte behels die beheer van wateronkruide vanaf die Barrage tot by Bloemhofdam, waaronder die waterhiasinte (Eichhornia crassipes) die mees algemene spesie is.
‘n Luginspeksie is op 24 Mei gedoen wat gewys het dat daar net sekere plekke is waar beduidende besmettings voorkom. Hierdie besmettings is in die omgewing van Lindequesdrift, Oorbietjiesfontein, Kromelmboogspruit, Witkop, Smilin Thru, en by die uitkeerstuwal. Stroomaf van Parys is beduidende besmettings tussen die eilande vanaf die Potchefstroom-brug tot by die eilande onderkant Sunwa gesien.
Die beplanning is om met ‘n totaal van sewe spanne met gemiddeld 12 werkers per span in die omgewing van die Barrage en Parys/Vredefort te werk.
Een van die spanne het reeds in die omgewing van die Barrage begin, terwyl drie spanne van Parys ook reeds begin het en sou konsentreer op die omgewing van Gholfeiland.
Die ander drie spanne van Vredefort beoog om in die omgewing van Sunwa River Lodge te begin werk.
GreenThorn sê dankie aan die grond- eienaars wat reeds hul toestemming gegee het sodat die spanne op hulle grond kan werk. Die projek kan slegs met die samewerking van die grondgebruikers langs die rivier suksesvol bedryf word.
Daarom vra die projekbestuurders, Michael Seiderer (083 440 6450) en Piet Theron (083 460 9190) dat alle grondgebruikers langs die rivier op die volgende maniere by die projek betrokke sal wees:
1. Soveel moontlik waterhiasinte uit die rivier te verwyder. Elke plant wat verwyder word help om die algehele besmetting te verminder, asook die vermeerdering gedurende die somer te beperk.
2. Gereeld die voorkoms van waterhiasinte wat buite grondgebruikers se vermoë vir verwydering is, te rapporteer. Aangesien die projek deurlopend is, maak kontak met Land Care komitees en die plaaslike Landboukantoor (Schalk Burger 082 653 4281) om ook hier te rapporteer.

3. Die projekbestuurders beoog om weer ‘n forum op die been te bring om so met die gemeenskap en ander belanghebbendes te skakel.
Dit sal waardeer word as grondgebruikers ook hierdie beplande forum kan ondersteun. Persone wat belangstel om by die forum in te skakel, word gevra om met Piet Theron of Schalk Burger in verbinding te tree. Sodra daar ‘n redelike getal belangstellende grondeienaars is, sal ‘n datum en plek vir die stigtingsvergadering van die forum bepaal word, en aan alle betrokkenes deurgegee word. Die gedagte is dat die forum bekend sal staan as die “Middle Vaal Aquatic Advisory Forum”. Die doel van die forum sal wees om ‘n skakel te wees tussen grondeienaars en GreenThorn se projekbestuurders. Hulle sal grondeienaars motiveer om aan die projek deel te neem.
Deelname aan die projek kan die volgende behels:
Monitering: Op ‘n gereelde basis die voorkoms van waterhiasinte te monitor en die inligting deur te gee.
Beheer: Om waterhiasinte op ‘n deurlopende basis te beheer deur dit meganies te verwyder, of wanneer toestande gunstig is, onkruiddoder te gebruik. Waar grondeienaars self beheer toepas, sal GreenThorn die inligting in vorderingsverslae wil insluit.
Ondersteuning aan GreenThorn:
Waar grondeienaars nie self die plante kan beheer nie, moet die projekbestuurders ingelig word en reëlings getref word sodat werkers van die projek die beheer kan doen.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button