Local newsNewsNewsBreaking News

Opdatering – Amy-Lee steeds nie gevind – ‘n ooggetuie vertel

Opdatering - Amy-Lee steeds nie gevind - ontvoerders kontak pa en 'n ooggetuie vertel

2 September 14:00

VANDERBIJLPARK. – Amy-Lee de Jager (6), graad R leerder aan die laerskool Kollegepark is op hierdie stadium, 2 September om 14:00, nog nie gevind.

Media instansies is deur die polisie onderhandelaars en polisie media personeel gekontak om geen verder inligting te plaas wat die ondersoek en onderhandelings kan benadeel nadat die ontvoerders haar pa, Wynand gekontak het.

Vaalweekblad het met ‘n ooggetuie gepraat oor die voorval vanoggend net voor 08:00 by die skool. Annemarie Pienaar het haar seun by die skool afgelaai en saam met hom ingestap en afgesê by sy klas. Volgens Annemarie was sy op pad terug na haar voertuig en sowat vyf meter van die voertuig van Amy-Lee se moeder, Angeline af.

“Ek het net ‘n vrou hoor gil en toe ek opkyk,  het ek ‘n wit Fortuner gesien en by die venster ingeloer maar kon niks sien nie want die venster was swart. Ek het net gesien hoe sy op die grond val waarskynlik toe die voertuig wegtrek of haar gestamp het.”

“Ek kon nie die mans sien nie of op daardie stadium ‘n registrasienommer sien nie.”

“Die volgende oomblik was daar ‘n seuntjie by die hek wat skreeu. Mens kon die vrees op sy gesig sien. Ek tel hom toe op en hy skreeu net, my sussie, my sussie. Ek het hom toe na sy klas toe gevat.”

“Ek het eers gedink dit was haar voertuig wat hulle gevat het.” “Terug buite het die vrou gesê hulle het haar kind by haar gegryp en in die Fortuner gelaai en weggejaag. Verder het ek nie veel meer gesien nie,” vertel Annemarie.

Verskeie Fortuners is gedurende die oggend opgevolg en afgetrek maar daar is nog geen teken van die voertuig of Amy-Lee.

Die polisie is tans besig saam met die ouers om die saak te ondersoek. Die polisie vra egter die publiek om nie onwaarhede op sosiale media te plaas nie, asook enige inligting wat hul ondersoek kan benadeel.

LEES MEER IN VAALWEEKBLAD 4 SEPTEMBER.

Pa Wynand en ma Angeline saam met hul twee kinders. Foto: Facebook

 

 

 

 

 

 

VORIGE BERIG

2 September 09:00

VANDERBIJLPARK. – ‘n Meisie is vanoggend deur 4 mans in ‘n Toyota Fortuner ontvoer by laerskool Kollegepark in Vanderbijlpark.

NAAM: Amy-Lee de Jager graad R

Inligting tans beskikbaar.

4  mans

Wit Toyota Fortuner met getinte ruite.

Registrasie van voertuig onbekend.

Rigting moontlik R59, R82 of R42. – (Nie bevestig)

WEES ASSEBLIEF OP DIE UITKYK!!!

KONTAK POLISIE INDIEN DIE VOERTUIG OF DIE MEISIE GEWAAR WORD.

Amy-Lee de Jager wat ontvoer is.


Related Articles

Back to top button