NewsNews

Kouswesies soek steeds maats

Maak daarom seker dat jou kouswesies nie nog ’n aand alleen in die wasgoedmandjie lê nie.

Ken jy ook die enkellopende, vervreemde sokkies wat stoksielalleen en wees uit die wasmasjien kom? Onverklaarbaar. Geskei in die wasproses so byna asof pasmaats deur die tuimeldroër of iewers tussen die wasmasjien en die wasgoeddraad ingesluk is.
Geen mens weet waar hul heengaan nie! Dan is dit nog meestal hulle wat splinternuut is en nog lank nie ingewy met die bekendheid van voetreuke en letsels van baie dra nie.
Kom – jy moet help met die Odd Socks projek!
Daar is nog net 20 pare kouse en 28 alleenloper wesies by La Vie & Rose in Breëstraat wat die versamelpunt vir Parys is.
Die Odd Socks projek is amptelik op 19 Junie begin.
Abrie du Plooy, stigter van die projek, vertel dat hy lank met die idee geloop het om pasmaats vir weessokkies te kry. As twee van die enkellopende sokkies pasmaats kan kry, word dit ’n bont paar vir iemand op straat sonder sokkies.
Vir elke kouswesie word ‘n pasmaat gesoek van dieselfde grootte en materiaal by die onderskeie versamelpunte. Dan word dié vrolike paartjies na welwillendheidsprogramme of sopkombuise versprei. Enige organisasie wat in kontak is met hawelose mense is gunstelinge om die kouse na te versprei.
Meer nog – daar word probeer om die kouspare te versprei in dieselfde gebied waar dit versamel is. So word die hele land by die projek betrek – nie net om deel te neem nie, maar ook voordeel uit die projek te kry.


Related Articles

Back to top button