NewsNews

Hou aan, hou koers!

Nou is hy op pad Kaap toe om sy reis te voltooi wat op 17 Augustus by die Voortrekkermonument begin het.

Van die Voortrekkermonument, verby die Vrouemonument tot by die Taalmonument. Dit is waar die langpad die 77-jarige oom Jakkie van der Colff lei op sy fietstoer vir die Voortrekkers wat op 21 September by die Taalmonument in die Paarl ten einde loop.
So het hy ook verlede week ’n draai in Parys gemaak. Die Voortrekkers van Parys-kommando het hom met breë glimlagte by die laerskool verwelkom, nadat Don Jordaan, offisier van Parys-kommando, van Potchefstroom na Parys saam met hom getrap het.


In Parys is oom Jakkie deur die Gr. 4 Bytjie-span op ’n toer na van die besienswaardighede in en om die dorp geneem en het die kinders se kennis oom Jakkie besonder baie beïndruk, veral omdat hy die dorpie ken. Van die besienswaardighede wat hier vir oom Jakkie gewys is, is die hangbrug oor die Vaalrivier, die Parys-museum, die Gelofte Monument op die NG Moedergemeente terrein, en die Penkop-beeld wat vanjaar by die FAK Udolpho Jeugkampterrein onthul is.


Verlede Woensdag is vir oom Jakkie erewag op die laerskool se teerblad gestaan en die kreet gesing, voordat oom Jakkie na ’n gebed saam met die Voortrekkers, weer begin trap het vir sy volgende skof na Kroonstad.


Oud-Voortrekker Hannes de Wet het self ook gesorg dat hy daar was om oom Jakkie te ontmoet en hom ’n entjie te vergesel op sy pad uit die dorp.
Oom Jakkie boodskap aan Parys se Voortrekkers – “Hou net aan. Maak nie saak hoe swaar en moeilik die pad vorentoe is nie. Die persoon wat aanhou is uiteindelik die wenner.” Hy het afgesluit met die woorde van Willem van Oranje: “Oorwinning is nie finaal nie, mislukking is nie fataal nie.”
Vir oom Jakkie is daar niks beter as die buitelug en die langpad nie, want dis hier waar jy asemhaal, sê hy. Op sy fiets is al sy klere vir sy bykans maandlange reis, sy eetgoed, GoPro kamera en twee vlae – die Suid-Afrikaanse vlag bo sy voorwiel, en die Voortrekkervlag by sy agterwiel.
Vir hom is die hartlikheid, ywer en veelsydigheid van die Voortrekkers met wie sy pad gekruis het verstommend, en dit is waarom hy vas glo dat die Voortrekkerbeweging karakter bou.
Hy oornag by mense wat betrokke is by die Voortrekkers, en inspireer jongmense waar hy ook al kom.
Op elke plek waar daar vir hom ‘n funksie gehou is, was die Voortrekkers daar – of dit nou boeresport, volkspele of ’n erewag was.
Nou is hy op pad Kaap toe om sy reis te voltooi wat op 17 Augustus by die Voortrekkermonument begin het. Rol die wiele, oom Jakkie en hou koers! Oom Jakkie trap, trap, trap – Parys staan agter jou!

Related Articles

Back to top button