NewsNews

Organisasies neem standpunt in teen onteiening sonder vergoeding

Die Ad hoc-groep vir die Beskerming van Eiendomsregte neem kennis van die mosie wat onlangs in die Parlement aanvaar is om die parlementêre Ad hoc-komitee op die Wysiging van Artikel 25 van die Grondwet weer in die lewe te roep.

Die Ad hoc-groep vir die Beskerming van Eiendomsregte neem kennis van die mosie wat onlangs in die Parlement aanvaar is om die parlementêre Ad hoc-komitee op die Wysiging van Artikel 25 van die Grondwet weer in die lewe te roep.

Die Ad hoc-groep vir die Beskerming van Eiendomsregte neem ook kennis van die verslag gelewer deur die Presidensiële Adviespaneel oor Grondhervorming en Landbou, sowel as die minderheidsverslag wat deur twee lede van die Adviespaneel vrygestel is.

Die Ad hoc-groep vir die Beskerming van Eiendomsregte* is ʼn informele groepering van organisasies wat sedert 2008 gereeld ontmoet om oor sake van gemeenskaplike belang te besin, en veral pogings tot onteiening van grond en ander eiendom teen te staan. Die Ad hoc-groep het op Vrydag 16 Augustus 2019 in Pretoria vergader.

Die sameroeper van die Ad hoc-groep, mnr. Jaco Schoeman, sê tydens die afgelope vergadering dat Suid-Afrika en sy inwoners se toekoms te kosbaar is om toe te laat dat die drakoniese idee van onteiening sonder vergoeding kan voortgaan. Te midde van verslegtende armoede en werkloosheidsyfers, volhard die regering in sy najaag van skadelike en gevaarlike beleid wat geen oplossings bied vir die sosio-ekonomiese kwessies wat Suid-Afrika in die gesig staar nie. Inteendeel, beleide soos onteiening sonder vergoeding ondermyn verder fundamentele ekonomiese en ander strukture en stelsels in die land en staan as enorme bedreiging vir ekonomiese en meegaande sosiale vooruitgang.

Die Ad hoc-groep vir die Beskerming van Eiendomsregte word tydens sy onlangse vergadering voorgelig deur prof. André Duvenhage van NWU. Prof. Duvenhage skets die ideologiese agtergrond en klimaat waarbinne die voorgestelde grondwetwysigings nagejaag word, en lig ook verskeie bedreigings vir die Suid-Afrikaanse samelewing uit, sowel as die aanbevelings van die Presidensiële Adviespaneel oor Grondhervorming en Landbou. Prof. Duvenhage meld verder dat dit die regering se primêre verantwoordelikheid is om orde, stabiliteit en veiligheid aan die land se inwoners te voorsien, en ook om ‘n klimaat te skep waarbinne beleggers veilig voel om hul kapitaal te belê. In beide hierdie opsigte faal die ANC-regering Suid-Afrika heeltemal. Prof. Duvenhage voer aan dat daar tans meer rasgebaseerde wetgewing in die uitvoering van beleid is, as tydens apartheid. Die staat word al meer disfunksioneel met infrastruktuur en dienslewering wat in duie stort. Prof. Duvenhage meen dat alle beplanning van die burgerlike samelewing daarop gerig moet wees om buite die staatsomgewing te funksioneer.

Verskeie belangrike sake word tydens die vergadering bespreek, en die onderskeie organisasies dui hul voorneme aan om met hul onderskeie aksies en projekte voort te gaan, maar ook om gesamentlik aksies en strategie te beplan om die beskerming van eiendomsreg vir alle Suid-Afrikaners te bevorder uit hoofde van die belang daarvan as faktor om ekonomiese groei te bewerkstellig. Die beskerming van eiendomsreg is die enigste volhoubare metode waarop geleenthede vir almal in die land geskep kan word. Die beskikbaarmaking van titelaktes vir alle Suid-Afrikaners, onder meer dié wat in HOP-huise woon, is deur die Ad hoc-groep bespreek en geniet breë ondersteuning.

Ernstige kommer word tydens die vergadering uitgespreek dat die gevolge van die ANC se voorgestelde beleid, juis die armste en mees kwesbare Suid-Afrikaners die hardste gaan tref met ernstige sosio-ekonomiese gevolge. Kwesbare Suid-Afrikaners se toekoms word deur regeringsbeleid ontneem, en onteiening sonder vergoeding sal hierdie tendens versnel en vererger. Terselfdertyd word ernstige kommer uitgespreek oor veiligheid en sekuriteit in landelike gebiede, terwyl grootskaalse verstedeliking plaasvind met min doeltreffende beplanning of strategie rondom die voorsiening van volhoubare voedselsekerheid.

Daar is weer eens kommer uitgespreek dat die regering die beleidsrigting van onteiening van grond sonder vergoeding inslaan terwyl daar geen betroubare databasis bestaan van grondbesit in Suid-Afrika nie. Dit is uitgewys dat selfs bestaande databasisse oor grondbesit afwykings en verskille van soveel as 30% toon.

Voorligting is ook ontvang oor die vernietigende effek van die voorgestelde Nasionale Gesondheidsversekering en dat dit sal bydra tot ʼn groter ekonomiese las op elke ekonomies produktiewe Suid-Afrikaner. Dit kan gesien word as ’n vorm van onteiening van die gesondheidsektor.

Die Ad hoc-groep vir die Beskerming van Eiendomsregte nooi alle organisasies en Suid-Afrikaners wat erns het oor die toekoms van ons land om deel te word van die breë burgerlike opposisie teen die destruktiewe ideologiese beleidsrigting van eiendomsregteskendings. Die basiese uitgangspunt van die Ad hoc-groep is dat eiendomsregte, binne die internasionaal gevestigde beginsels van menseregte, die basis van ekonomiese groei en vooruitgang is. Die Ad hoc-groep moedig alle Suid-Afrikaners aan om saam te werk met lidorganisasies van die Ad hoc-groep om die fondamente van ’n suksesvolle Suid-Afrikaanse toekoms te lê.

Die dagbestuur van die Ad hoc-groep vir die Beskerming van Eiendomsregte se werksaamhede sal voorts gekoördineer word deur Jaco Schoeman (Afrikanerbond) as sameroeper, Bennie van Zyl (TLU SA) as ondervoorsitter, Dave Steward (FW de Klerk Stigting), Dr Theo de Jager (SAAI), Piet le Roux (Sakeliga), Hermann  Pretorius (SAIRR) en Jan Bosman as sekretariaat.

 

 * Die Ad hoc-groep vir die Beskerming van Eiendomsreg is ʼn informele groepering van organisasies, burgerlike instellings en politieke partye van regoor die politieke en maatskaplike spektrum wat teen onteiening sonder vergoeding gekant is.  Verskeie ander organisasies is ook deurlopend besig om hulle steun aan hierdie groep toe te sê.

Related Articles

Back to top button