NewsNews

Leerling erg beseer in fratsongeluk by skool

VANDERBIJLPARK. – ‘n 11-jarige leerling aan die Laerskool D.F. Malherbe is  op 6 Augustus  deur die Netcare 911 noodhelikopter na die Unie-hospitaal in Alberton gevlieg nadat sy haar arm ernstig by die skool beseer het.

 

VANDERBIJLPARK. – ‘n 11-jarige leerling aan die Laerskool D.F. Malherbe is Dinsdagoggend (6 Augustus) deur die Netcare 911 noodhelikopter na die Unie-hospitaal in Alberton gevlieg nadat sy haar arm ernstig by die skool beseer het.
Keiara Steenekamp is deur ER24 se paramediese personeel op die toneel behandel na ‘n fratsongeluk tydens die Liggaamlike Opvoeding (LO) periode op die speelterrein. Sy het haar skouer baie erg ontwrig en van die senuwees het seergekry. Sy het ook gevoel in haar arm, been en voet begin verloor en het gespesialiseerde behandeling benodig. ER24 se paramediese personeel het besluit om haar te verwys en aangesien ‘n neurochirurg nie plaaslik beskikbaar was nie, is sy deur Netcare 911 na die Unie-hospitaal in Alberton gevlieg.
Keiara se ouers, Pieter en Nyree, het na die voorval gesê hulle is baie beïndruk met die skool se hantering van die voorval.
“Die skool en LO onderwyser het alles volgens die boek gedoen en ons is deur die skool gekontak. Ek was in Krugersdorp en is dadelik terug na Vanderbijlpark.”
Volgens Keiara was die pyn baie erg, maar sy kan nie veel van die rit in die helikopter onthou nie, omdat sy ‘n morfieninspuiting teen die pyn gekry het.
Keiara is Saterdag 10 Augustus uit die Unie-hospitaal ontslaan. Sy moet egter drie keer per week vir fisioterapeutiese behandeling gaan en dit sal ‘n ruk neem om die volle gebruik van haar arm terug te kry. Sy gaan weer op 27 Augustus die spesialis besoek.
Volgens Pieter het die senuwees in haar skouer en rug seergekry met die ontwrigting wat haar arm blou laat word het en die been- en voetverlamming veroorsaak het.
Keiara sterk tuis aan, maar sal volgende week weer terug wees by die skool.
Pieter en Nyree bedank die skool en almal vir hul boodskappe en ondersteuning.

Lees ook vorige web berig hier:

Leerling per helikopter vervoer na besering by skool

Die pragtige Keiara Steenekamp (11), wat onlangs haar skouer erg by die skool ontwrig het.

Related Articles

Back to top button