NewsNews

Twee vermeende skaapdiewe kry nie borgtog

Twee vermeende skaapdiewe kry nie borgtog

Vyf vermeende skaapdiewe het Maandag, 5 Augustus vir ‘n tweede keer in die landroshof op Ventersdorp verskyn nadat boere in die omgewing gehelp het om hulle vas te trek.

Simphiwe Sehumelo (20), Anthony Moosa Kock (31), Stone Daniël Matabela (30) Itumeleng Modisane (19) en Itumeleng Phillip Phologoane (29) is van diefstal aangekla.

Sehumelo, Kock en Modisane is op borgtog van R1000 elk vrygelaat, terwyl borgtog aan Matabela nie toegestaan is nie weens ‘n aanklag van ‘n vorige veediefstalsaak wat nog nie afgehandel is nie. Matabela het nie aansoek gedoen vir borgtog nie omdat hy ook met ‘n vorige veediefstalsaak verbind word.

Die beskuldigdes sal weer op 19 Augustus in die Streekhof verskyn. Die polisie is tans opsoek na nog ‘n verdagte.

Volgens kol. Adéle Muburgh het die voorval op Maandag, 29 Julie omstreeks 06:30 op ‘n plaas naby Ventersdorp plaasgevind. ‘n Boer het drie mans op heterdaad betrap toe hulle een van sy skape in hulle Toyota Corolla laai.
Die verdagtes het weggejaag toe hulle die boer sien en nege ander vasgebinde skape in die lang gras agtergelaat. ‘n Jaagtog het ontstaan terwyl die polisie ontbied is.

Ander boere in die omgewing het ook aan die jaagtog deelgeneem en ‘n padblokkade gevorm om die vermeende diewe te stop.

In ‘n poging om te ontsnap, het die voortvlugtendes van die pad af gery en ‘n dienspad langs die treinspoor naby die Ratsegai stasie gevolg. Hul motor se onderstel het later vasgeval terwyl die wiele nog gedraai het. Die friksie wat dit veroorsaak het, het die motor aan die brand laat slaan.

Die vermeende diewe het op die vlug geslaan, maar een van hulle is deur ‘n boer gevang en aan die polisie oorhandig.

Die skaap is uit die brandende motor gered en die nege ander skape is aan die eienaar terugbesorg. Die polisie se Veediefstaleenheid het later nog drie verdagtes in Tshing in hegtenis geneem.

Die waarnemende provinsiale polisiekommissaris, genl.maj. Ryno Naidoo, het die boere geprys vir hulle vinnige optrede en hulp om die diewe vas te trek.

Hy is ook vol lof vir die boer wat sy skape volgens die Wet op Diere-identifikasie gemerk het. Sodoende kan diere met sekerheid aan hul regte eienaar terugbesorg word. “Misdaad sal afneem en gemeenskappe sal veiliger wees wanneer die polisie en lede van die gemeenskap saamwerk”, sê hy.

Related Articles

Back to top button