News

Noodplan by skool getoets

Noodplan by skool getoets

VAALPARK. – Rampe en spesifiek die Hoërskool Driehoek se tragiese ramp vroeër vanjaar, het menige ouers, onderwysers en nooddienswerkers bewus gemaak van rampe wat enige tyd kan gebeur.
Netcare 911, Netcare Vaalpark Hospitaal, Vaalpark Primêr, die Sasolburg GPF, QRF Security Solutions, Public Eye, die brandweer, Vaal Emergency Services en die polisie het in ‘n gesamentlike oefening ‘n tyd gelede so ‘n scenario nageboots.
Vyftien leerlinge van die skool is in ‘n “bomontploffing” en “brand” wat die skool om 10:00 getref het, beseer. Die skool se noodplan is in werking gestel.
Die noodspan het toegesien dat die geboue eerstens ontruim is. Leerlinge het op die sportvelde bymekaar gekom en elke onderwyser het die leerlinge se name gekontroleer om te verseker elkeen was veilig uit die skoolgebou.
Netcare 911 se noodvoertuie en ambulanse was kort na die voorval op die toneel en het na die “beseerdes” omgesien. Addisionele ambulanse van Netcare 911 en onder meer Vaal Emergency Care is ook na die toneel ontbied om hulp te verleen en “pasiënte” te vervoer. Binne 45 minute was al 15 pasiënte by Netcare Vaalpark Hospitaal waar elke geval volgens sy beserings behandel is.
Volgens me. Karen Baker, hoof van Vaalpark Primêr, was die oefening baie suksesvol, maar bied dit steeds uitdagings. “Ons is baie dankbaar vir die betrokke partye. Ons hoop om weer die noodplan te oefen en te verbeter,” sê me. Baker.
Sers. Wynand Oberholzer van die polisie het ook beaam dat die oefening suksesvol was. Die nooddienste, insluitend die brandweer wat binne 11min op die toneel was, het almal hul kant gebring om die oefening suksesvol te maak.
Matrone Karen Jansen van Vaalpark Netcare Hospitaal het aan die media gesê dit was ‘n fantastiese oefening. “Ons kan verbeter en ons gaan verhoudings bou met inwoners en die skole dat hulle bewus kan wees van ons 24-uur ongevalle en kindersaal,” sê Karen. “Die feit dat dit ‘n beheerde oefening was, kon ons toelaat om te stop en foute te korrigeer”. Netcare 911 se paramediese personeel het soos altyd bewys dat hulle goed opgelei is en dat hul reaksietyd vinnig is.
* Ouers, kinders en sekere van die sosiale groepe op WhatsApp en buurtwaggroepe is vooraf ingelig om paniek te vermy.

VIDEO: JANNIE DU PLESSIS en ESTHER ENGELBRECHT

 

FOTO GALLERY: JANNIE DU PLESSIS en ESTHER ENGELBRECHT

 

Related Articles

Back to top button