News

Roosdroom stadig aan die verlep

Roosdroom stadig aan die verlep

Dit wil lyk asof die droom van ’n florerende snyroos-projek, aan die verlep is vir Parys.
Die Parys Flower Project met sy pragtige Ludwig-snyrose in twee kweekhuistonnels op munisipale grond in Allenbystraat, is kort na die eerste Free State/Madeira Flower Festival in 2016 vir Parys gevisualiseer.

So het dit verlede jaar nog  in die kweekhuise van die Parys Flower Project gelyk. 

Selfs van die dorp se inwoners het fluks kom help snoei aan die rose. 
Die Vrystaatse regering wat toe nog onder premierskap van mnr. Ace Maga-shule gestaan het, het ’n hele R2,2 miljoen vir die projek begroot en sou vier tonnels hê wat naas rose, ook ander blomme sou insluit sodat Parys, soos Bloemfontein, waar ’n soortgelyke projek is, kon voordeel trek uit die blomme-industrie. Van die vier tonnels het net twee gerealiseer.
In 2017 is begin bou en teen Augustus 2017 was vyf vroue (twee van Vredefort en drie van Parys) by die projek betrek. ’n Totaal van 1 000 Ludwig rose van vyf verskillende variëteite is geplant – prentjiemooi wanneer die rose in blom was.
Twee jaar later lyk dit asof gebrekkige beplanning en bemarking, onvoldoende opleiding, geen mentor of formele eienaarskap vir die jong entrepreneurs en oënskynlik geen regeringsondersteuning, die sukses van die projek gekelder het. Van die oorspronklike begunstigdes is daar nie een meer oor nie.
n 2018 het Parysenaars nog geesdriftig gehelp om die projek te ondersteun So het ’n eienaar van ’n plaaslike kwekery, Rykie Schaller, uit haar eie die vroue gaan wys hoe om die rose te snoei en te versorg, en ook probeer help om van die rose in die dorp te verkoop. Daar is selfs vrywilligers gekry om te kom help snoei en mense het gereeld kom rose koop.
Maar sedert die 2018 FS/Madeira Flower Festival werk die koelkamer nie meer nie. Die boorgatwater maak net tonnel een nat, terwyl geen water by die tweede tonnel uitkom waar die meeste rose is nie. Dié moet met ’n tuinslang natgemaak word en omdat daar nie voldoende krane is om die hele tonnel nat te lei nie, moet emmers water aangedra word. Die omheining is stukkend. Daar’s geen kompos of insekdoders nie, en ’n pyplek wat dringend herstel moet word.
Boonop kla kliënte dat hulle selde die vroue by die tonnels kry, terwyl die begunstigdes se geesdrif vir die projek saam met die rose kwyn omdat hulle meen die munisipaliteit en Departement Landbou hulle nie ondersteun nie.

Die roostonnels wat Parysenaars bekommerd het oor wat die toekoms inhou vir die Parys Flower Project waarvoor R2,2 miljoen deur die VS regering begroot was. Op die foto is Refilwe Malebo en Pule Letoobe wat tans nog by die projek betrokke is.
Departement landbou kan nie help nie, omdat hulle net die struktuur daar moes stel en toe die projek na wat verneem is aan die munisipaliteit oorhandig het.
Die begunstigdes sê hulle sien net beamptes van die munisipaliteit “wanneer die mense van Madeira kom vir die blommefees.” Verder is daar geen ondersteuning nie.
Selfs die hulp wat hulle vroeër van Korrektiewe Dienste gekry het om die terrein netjies te hou, is iets van die verlede.
Monty Malebo wat sedert die begin van die projek een van die begunstigdes was, het in Januarie vanjaar die handdoek ingegooi en sê dat dit eenvoudig net nie vir haar meer lonend is nie. Sy sê hulle het nooit eienaarskap van die projek gekry nie. Haar susters, Refilwe en Neo, is nou by die projek betrokke, saam met Pule Letoobe. Ook hulle sê dat hul geen papierwerk het wat hul eienaarskap van die projek gee nie. Omdat daar in wintertye nie rose is nie, kom hulle nou Maandae, Woensdae en Vrydae tussen 08:30 en 13:00 om die rose te versorg, maar as dit somertyd is sal mense hulle elke dag daar kry, sê hulle.
Hoewel hulle in Mei laas ‘n inkomste kon kry uit die verkoop van die rose, sê Refilwe dat hulle aangaan met die projek en hoop dat besigheid sal optel namate dit somer word, omdat dit hul enigste inkomste In goeie tye verkoop hul gemiddeld 20 bosse rose teen R60 per bos. Dan is daar ook nog die roosblare wat verkoop word, maar sonder die koelkamer is dit ’n groot uitdaging met die somer wat voorlê.
Refilwe vertel dat wat hul weet, hul by Rykie geleer het, en die ander vrywilligers wat sedert die projek begin het, kom help het. Maar, voeg sy by, hoewel baie mense al geldelik en met toerusting wou bydra tot die projek, is die feit dat hul geen eienaarskap het van die projek nie, en alle skenkings deur die munisipaliteit geadministreer moet word, die rede waarom mense nie meer wil help nie. By navraag aan die munisipaliteit het mnr. Colin Pule gesê dat hy saam met die begunstigdes na die Gazette sal kom om die feite op die tafel te kry. Mense wat rose wil bestel kan 073 334 9156 skakel.

 

Related Articles

Back to top button