NewsNews

Kouswesies: Onpare word bont pare

In Parys kan jy jou kouswesies neem na La Vie & Rose in Breëstraat 80.

Ken jy ook die enkellopende, vervreemde sokkies wat stoksielalleen en wees uit die wasmasjien kom? Onverklaarbaar. Geskei in die wasproses so byna asof pasmaats deur die tuimeldroër of iewers tussen die wasmasjien en die wasgoeddraad ingesluk is.
Geen mens weet waar hul heengaan nie! Dan is dit nog meestal hulle wat splinternuut is en nog lank nie ingewy met die bekendheid van voetreuke en letsels van baie dra nie.
Kom – jy moet help met die Odd Socks projek!


Dié projek is amptelik op 19 Junie begin.
Abrie du Plooy, stigter van die projek, vertel dat hy lank met die idee geloop het om pasmaats vir weessokkies te kry. As twee van die enkellopende sokkies pasmaats kan kry, word dit ’n bont paar vir iemand op straat sonder sokkies.
Abrie het begin met ’n gesprek op ’n plaaslike Facebook gemeenskapsgroep in Fourways, Johannesburg, en twee dae later ook in Randburg en Northcliff.
So het hy Bianca van Wyngaardt van FOOP-Ville, ’n herwinningsorganisasie, raakgeloop wat dadelik haar eie perseel en vriende s’n aangebied het as versamelpunte vir die sokkies. Bianca het boonop ook haar hele span tot Abrie se beskikking gestel vir die sorteer en verspreiding van die sokkies.
Sommer gou het die woord versprei om versamelpunte regoor die land te kry.
En siedaar – jy kan nou jou kouswesies skenk vir die Odd Socks projek sodat daar dan ’n pasmaat van dieselfde grootte en materiaal gesoek kan word by die onderskeie versamelpunte. Dan word dié vrolike paartjies na welwillendheidsprogramme of sopkombuise versprei. Enige organisasie wat in kontak is met hawelose mense is gunstelinge om die kouse te versprei.
Meer nog – daar word probeer om die kouspare te versprei in dieselfde gebied waar dit versamel is. So word die hele land by die projek betrek – nie net om deel te neem nie, maar ook voordeel uit die projek te kry.
In Parys kan jy jou kouswesies neem na La Vie & Rose in Breëstraat 80.

So word ander gehelp
Op 29 Julie was die projek nog net ses weke aan die gang, maar is reeds 55 versamelpunte aan die werk en kon nagenoeg 3 000 pare voete kouse kry.
Die mikpunt – om 10 000 enkelkouse teen einde Augustus bymekaar te hê.
As jy nie kouswesies het nie, kan jy selfs kouspare skenk.
Jy kan ook ‘n e-pos stuur vir meer inligting na oddsocksproject@gmail.com of gaan kyk op die Facebook-blad https://www.facebook.om/theoddsocksproject/

Die webblad wat jy kan besoek om meer te lees oor die projek is www.theoddsocksproject.co.za

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button