NewsNews

Outisme – ‘n Brownie kan dié seun help

’n Potchefstroomse gesin vra die gemeenskap om hulle te ondersteun deur ’n Brownie vir outisme te koop

’n Potchefstroomse gesin vra die gemeenskap om hulle te ondersteun deur ’n Brownie vir outisme te koop. Gerhard en Elma Human se seun, Rheynhardt (7), is op die ouderdom van drie jaar en sewe maande met outisme gediagnoseer.

Tot en met vier en ’n half jaar oud, het Rheynhardt glad nie gepraat nie. Omdat hy op die spektrum van outisme is, het hy ontwikkelingsprobleme en moet hy behandeling daarvoor ontvang.

Die Humans het oral gesoek na die beste terapie vir hul seun en het deur middel van die Brain Child Fund op die Family Hope Centre (FHC) afgekom. Dit is ’n internasionale organisasie wie se fokus is om met ouers te werk wie se kinders neurologiese ontwikkelingsprobleme het en intensiewe behandeling moet ontvang.

Die Humans kon genoeg ondersteuning kry om in Februarie vanjaar die FHC se ouer-opleidingskonferensie by te woon.

Hulle het die FHC se program in hul eie huishouding toegepas en sien reeds uitstekende resultate by Rheynhardt. “Ons is baie opgewonde om te sien waar ons na ’n jaar met die program gaan wees,” sê Elma.

In Februarie 2020 sal die span dokters van die FHC vir ’n volgende konferensie na Suid-Afrika kom. Hier sal Rheynhardt se vordering geëvalueer word en sy program sal dan vir die jaar aangepas word. Om Rheynhardt toe te laat om weer die konferensie by te woon en aan te gaan met die program, moet die gesin genoeg fondse insamel.

Die gesin is baie positief oor die positiewe impak wat die program op Rheynhardt se lewe het. Om met fondsinsameling te help, het ’n vriendin van Elma, Laurika Muller, ’n spesiale Brownie begin bak waarvan die wins na Rheynhardt se behandeling gaan.

Lauky’s Fudge Brownies se stalletjie sal by die Snowflake Mark op 2 en 3 Augustus te koop wees. Vra vir die Kid Kat Brownie om Rheynhardt te ondersteun. Skenkings kan ook in Rheynhardt se Back a Buddy-rekening gemaak word, volg die skakel om te skenk: https://www.backabuddy.co.za/champion/project/rheynhardt-human 

Enigeen wat met die gesin wil hande vat om deur die jaar ander fondsinsamelingsprojekte vir Rheynhardt te loods of meer wil uitvind van die program, kan Elma by 082 339 8143 skakel.

Related Articles

Back to top button