BlogsNewsNewsOpinions

RIGTINGVERWARD

As ek nou net die konferensielokaal kan opspoor…

Liewe  Persoon,

Ek hoef jou niks te vertel nie, want jy weet mos al te goed hoe rigtingverward ek kan wees.  Dit is vir my niks vreemd om uit die dokter se spreekkamer te loop, ‘n verkeerde draai (in ‘n amperse reguit gang) te maak en in die verbandkamer op te eindig nie. Net nou die dag weer het ek ‘n bebloede rugbyspeler in die eindste verbandkamer gevang waar hy besig was om ‘n selfie van sy besering – ‘n oopgekloofde oogbank – te neem. Ek reken die hutsmerk #skenkbloedspeelrugby of #educationisimportantbutrugbyisimportanter  sou sommer gou ge-trend het te oordeel aan die bloed op sy gesig…

Anyway. So moet ek vir diens aanmeld by ‘n konferensiesentrum iewers aan die buitewyke van Vanderbijlpark. Lees: plot-wêreld. Ek het my bes probeer om aanwysings via die komper te soek, maar is uiteindelik die vlaktes in met slegs ‘n straatnaam.  Nou vir die van julle wat nie bekend is met plot-wêreld nie, dit is ‘n nagmerrie om jou links van jou regs te onderskei, wat nog te sê jou noord van jou suid. Satelliet Saartjie (my gewillige maar dikwels onbetroubare GPS) het sommer dadelik begin gil: “Unmarked road!”, en haarself sommer kapabel verklaar en vir die res van die avontuur nie ‘n enkele geluid gemaak nie.

Selfoonopvangs is in dié geweste ook so skaars soos hoendertande – om nie eens van bordjies met straatname te praat nie. Elke plot het wel ‘n naam: ‘Toggekry’, ‘Sukkel-Sukkel’, ‘Stoepsit’, ‘Jan Pieterse en Moeder’, en my absolute gunsteling – ‘Highland Manor’.  So gebeur dit ook dat dieselfde huis meer as een adres kan hê, trues bob! Ek ken ‘n onderwyseres wie se huis, afhangende van watter rigting jy kom, twee verskillende nommers en gepaardgaande straatname het. Praat van confusing!

So kry ek hond se gedagtes toe ek ‘n klipperige sinkplaatpad moet aandurf. Dit lyk dan of niemand hierdie pad in jare gery het nie? Maar nogtans voeter ek voort, terwyl ek kliphard bid vir die welstand van my bande…

Uiteindelik sien ek lewe – en met dit bedoel ek ‘n swetterjoel krulstert hondjies en ‘n Bloubul-vlag wat parmantig punt-in-die-wind wapper.  Ek stop, sommer by die voordeur vir ingeval ek vinnig moet laat spaander (face it, ons leef in vreemde tye). Die hondjies hardloop nader en al is dit toe nog nie eens elfuur nie, hoor ek hoe Nicholas Louw naarstigtelik na sy Baby soek.

“Is jy van die universiteit?” vra ‘n oom met ‘n pyp in sy mond my. Ek knik instemmend en skud sy hand. “Ek ken nie daai plek waarna julle soek nie,” antwoord hy en ek voel hoe my moed in my skoene sak. Ek try toe my luck en vra hom in watter rigting die ander soekendes gery het. Maar nee. Hy kan nie onthou nie. Ek sien hy kyk na die Days of our Lives omnibus en besef dadelik dat die slinkse Brooke seker sy aandag aftrek. Een ding is egter seker: ek troos myself met die wete dat ek nie alleen is in my rigtingloosheid nie.

Ek vat toe letterlik die road less traveled en na wat soos ure gevoel het, sien ek weer ‘n flikkering van beskawing. Maar helaas, dit is ‘n donkie- en perd sanctuary . Net daar besluit ek dat as dit dié plek is, ek vandag liefs net pepermente sal kou…

Weer keer draai ek om, want die sanctuary bied vir almal ‘n veilige hawe, behalwe vir ‘n kommunikasiebeampte sonder ‘n sin vir rigting. Teen die tyd was ek al rooiwarm en my arme karretjie toe onder die stof (lees: dit het terstond gelyk of ek besig was met ‘n forced removal, maar sommer met my eie landbougrond en al). Dit is toe dat ek my wip en besluit om liewers terug te gaan kantoor toe.

En wat gebeur?

Op die snelweg is ‘n lewensgrootte bord met die konferensiesentrum se naam EN  rigtingaanwysers. Genade! Dit het my 45 minute se ronddwaal gevat, net om te besef dat daar ‘n geteerde pad vanaf die snelweg tot by Ontvangs is.

As ek nou net die konferensielokaal kan opspoor…

#rigtingverward #waariseknou

Related Articles

Back to top button