NewsNews

Operasie brug-regmaak

Operasie brug-regmaak

Lede van die Parys-gemeenskap het Maandag ingespring om Parys se geskiedkundige hangbrug oor die Vaalrivier, wat vanjaar ’n eeu oud is, te herstel. Dit nadat skrootmetaaldiewe van die staalstutte wat die kabels in posisie hou, weggedra het. Terselfdertyd is ’n boomtak wat teen die kabels gedruk het, ook afgesaag.
Die groot regmaak is moontlik gemaak danksy We Lead Construc-tion wat gratis hul dienste aangebied het om die tak af te saag, twee helpers wat die staalstutte teruggeplaas het en die draad herstel het, Parys Rotaryklub wat finansieel tot die projek bygedra het en Johan Bosman, een van die inwoners in die omgewing van die hangbrug wat al sedert 2013 sorg dat die rivieroewer hier skoon en netjies gehou word, en self ’n ogie oor die brug hou. Dankie ook aan individue uit die gemeenskap wat hulp aangebied het.
Dit was juis Johan wat in Junie gesien het dat die veiligheidskabels baie laag hang. Dit is toe dat hy ontdek het dat van die staalstutte weggedra is en het hy die brug tydelik gesluit ter wille van mense se veiligheid.
Die soektog van skroothandelaar tot skroothandelaar in die dorp het Johan en sakeman Saal de Jager, uiteindelik na die pale gelei wat soortgelyk is aan dié waarmee heinings gespan word. Dit kon maklik uitgeken word omdat dit gaatjies in het, en verliefde paartjies oor die jare slotte hieraan gehang het. Die skroothandelaar was baie tegemoetkomend en is die pale teruggegee – ses van hulle met niks minder nie as 54 slotte daaraan.
Johan het toe die inisiatief geneem om self seker te maak dat daar dadelik werk daarvan gemaak word om die brug weer veilig te kry vir die talle besoekers wat hier aandoen.
Die eindresultaat van sy poging was die gewillige hande wat Maandag douvoordag by die brug aan die werk was.

Regs is Rotary-president Louis Janse van Rensburg (links) saam met Johan Bosman en Wally Storer (Rotary sekretaris). Die Rotary-klub het finansieel tot die projek bygedra en Johan Bosman, een van die inwoners in die omgewing van die hangbrug sorg al sedert 2013 dat die rivieroewer hier skoon en netjies gehou word.


En vir Pascal en sy helper van We Lead Construction, wat soos sweefstokgimnaste hul sit moes ken om die tak gesaag te kry, kan jy gerus maar jou hoed afhaal. En dit gratis as hul deel om terug te ploeg in die gemeenskap.
Die hangbrug verbind die dorp met Gholf-eiland en is juis aan die eiland-kant toegemaak om vrye toegang na die Parys Golf & Country Estate te verhoed.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button