NewsNews

‘Ek het volle vertroue in God se tydsraaamwerk’

Adelaine se begrafnis is Vrydag middag 14:00 in die Gereformeerde kerk Parys op die h/v van Coller en Loopstrate.

Adelaine van Zyl, ’n oudskolier van Hoërskool Parys, is Dinsdagoggend oorlede. Sy is verlede Woensdag opgeneem en geopereer in die Eugene Marais-hospitaal om die drukking op haar brein te verlig, maar dokters kon nie die probleem oplos nie. Hoewel sy Maandag nog moedig teruggeveg het, was daar niks wat dokters meer vir haar kon doen nie.
Adelaine het sedert geboorte ’n opdraande pad geloop met haar gesondheid met Sclerosteosis (meer bekend as Marmerbeen siekte). Dit is ’n genetiese siekte wat beengroei aantas met been wat verdik (die teenoorgestelde van Osteoperose).
Oor die jare moes sy verskeie operasies ondergaan en het sy haar gehoor as gevolg van die siekte verloor. In Januarie vanjaar het sy ook begin om haar sig te verloor, en verlamming begin ervaar.
Die 30-jarige Adelaine het eers in haar hoërskooljare begin siek word en moes in graad elf ’n noodoperasie ondergaan toe been uit haar skedel gehaal moes word om toe ook die drukking op haar brein te verlig.
Destyds voor die operasie al het sy sporadies begin gehoor verloor as gevolg van die verdikking in haar skedelbeen. Sy het ook balansprobleme ontwikkel, erge hoofpyne gekry, en het die een kant van haar gesig begin trek en verlam geraak, net om oomblikke later weer reg te kom. Dikwels is die gevolge van die siekte nie so opvallend met geboorte nie.
Simptome wat wel by babas voorkom is gestremdheid in die persoon se vingers (sindaktelie) en in sekere gevalle gehoorverlies. Met die jare word dit duideliker sigbaar deur ‘n oormaat beengroei wat veral opvallend is in die persoon se gesigstruktuur, byvoorbeeld ‘n groter kakebeen, en gehoor wat soos in Adelaine se geval aangetas is namate die beengroei vererger.
In 2005 was daar nog net 72 gevalle in die wêreld gediagnoseer.

Adelaine van Zyl en haar seuntjie, Christiaan (10).
Foto: Verskaf

Met Adelaine se ongelooflike deursettingsvermoë en onwrikbare wil om bo uit te kom, het sy in hospitaalkamers gesit en leer en so haar graad 11 jaar en matriek met vrystelling geslaag, ten spyte van nog operasies en handboeke wat sy self moes deurwerk omdat sy nie meer haar onderwysers kon hoor nie. Haar groot droom van studie in finansiële rekeningkunde aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus moes sy na net vier maande laat vaar omdat klasbywoning ‘n nagmerrie was as gevolg van haar gehoorgestremdheid. Vasberade om haar kwalifikasie te kry het sy in 2014 haar B. Compt aan Unisa verwerf na vier en ‘n halwe jaar se studie met 34 vakke waarvan sy in 12 onderskeidings behaal het.
‘n Paar jaar gelede het Adelaine gehoor dat die beengroei sulke ernstige gevolge het dat sy net drie maande gegee is om te leef. Weer sou Adelaine moes gaan vir ‘n noodoperasie, met haar seuntjie Christiaan wat toe maar net ‘n jaar oud was. Maar soos verskeie kere tevore, het Adelaine ‘n tweede kans gekry op lewe. Tussendeur ma-wees en haar werk, het sy haar honneursstudies in 2018 voltooi, en was sy nou besig met haar SAICA eksamens.
Haar sukses – ‘n storie van aanvaarding ten spyte van gebreke, en geloof en hoop ten spyte van vele terugslae wat vir haar as skrander leerling ‘n skielike ommekeer gebring het. Iemand wat elke oomblik van die dag die lewe aangegryp het om haar drome te verwesenlik. Iemand vir wie haar geloof onwrikbaar was, selfs in haar swaarkry.
“Ek het volle vertroue in God se tydsraamwerk,” was haar woorde toe sy in 2014 met Gazette gesels het. “Ek sou nie my lewe anders wou hê nie. Ek kan getuig van wonderwerke waar God my lewe gered het. Ek ken seer en weet hoe dit voel om jou lewe werklik te waardeer. Sodoende kan ek vir ander vertel van die goedheid van God.”
“Dit is om vrede te hê in die middel van ’n storm.”

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button