News

Leë beloftes terwyl Emfuleni se rioolkrisis daagliks groter word

Privaatwonings en besighede kla oor rou riool wat in hul erwe, besighede en strate instroom

Leë beloftes terwyl Emfuleni se rioolkrisis daagliks groter word

Tydens ’n onlangse inspeksie van Vaaldriehoekse pompstasies het dit aan die lig gekom dat daar net aandag gegee is aan die pompstasies wat in Junie 2018 as foutief uitgewys is. Die betrokke pompstasies is vanjaar herstel.

Die res van die pompstasies in Vereeniging is vir die laaste drie weke nie in ’n werkende toestand nie. Privaatwonings en besighede kla oor rou riool wat in hul erwe, besighede en strate instroom. Só sê me. Gerda Senekal, VF Plus-raadslid in die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit.

Sy sê daar het min gekom van die beloftes van ministers en provinsiale owerhede om die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit se rioolkrisis op te los. Intussen vloei 140 tot 200 miljoen liter onverwerkte rioolafval daagliks vanaf die rioolsuiweringsaanlegte en rioolpompe in die Vaalrivier.

“Die minister van water en sanitasie, Lundiwe Sisulu, het reeds genoem dat R341 miljoen deur haar voorganger, Gugile Nkwinti, vir die oplos van die probleem beskikbaar gestel is, maar dit is nie duidelik wanneer die beloofde fondse beskikbaar sal wees nie.

“Die LUR vir plaaslike regering, Uhuru Moiloa en die departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) het aanbeveel dat Emfuleni sy munisipale infrastruktuur-toelaag van R168 miljoen moet hertoewys aan die sanitasie-afdeling.

“Nog ’n aanbeveling is dat ’n verdere interne R53 miljoen wat vir die paaie-afdeling begroot is, oorgeplaas word na die sanitasie-afdeling. Die totale bedrag van R562 miljoen kan ’n positiewe uitkoms teweegbring, mits dit dringend beskikbaar gestel word,” sê me. Senekal.

Die feit dat verskeie pompstasies in Vereeniging die afgelope drie weke buite werking is, veroorsaak steeds reuse-probleme in Emfuleni. Rou riool stroom onkeerbaar deur sommige strate sowel as deur talle erwe van privaatwonings en besighede.
“Die media berig gereeld oor die besoedeling en klagte, briewe en beswaarskrifte is selfs na die kantoor van president Cyril Ramaphosa gestuur – sonder enige uitkoms. Dit blyk dat daar geen dringendheid is om die dreigende humanitêre krisis op te los nie. Die ekostelsel van die Vaalrivier is reeds versteur deur die daaglikse storting van rou riool,” sê me. Senekal.

Sy veg steeds onverpoosd dat dié onaanvaarbare situasie plaaslike sowel as provinsiale en nasionale aandag van die regering moet kry.

Related Articles

Back to top button