NewsNews

‘ANC kán en moet ingryp by munisipaliteite in Suid-Afrika,’ sê VF+

In die laaste maand het 113 munisipale rade op ʼn onwettige wyse begrotings goedgekeur sonder enige geld.

 

 

“Die ANC-regering kan nie langer wegkyk terwyl plaaslike regering in duie stort nie. Aangesien feitlik al die probleme plaasvind by munisipaliteite onder ANC-beheer, kan en moet daar opgetree word om van slegte elemente ontslae te raak om munisipaliteite op die pad van herstel te plaas.”
So sê Wouter Wessels, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder: Samewerkende regering en tradisionele sake.
Wessels sê daar kan nie langer gesloer word met dié krisis nie. “Munisipaliteite is in ʼn haglike toestand met slegs agtien van die 257 munisipaliteite landwyd wat onlangs ʼn skoon oudit van die Ouditeur-generaal (OG) gekry het. Altesame 92% van munisipaliteite het nie voldoen aan wetgewing wat plaaslike regering rig nie,” sê hy.

“Tog is daar geen gevolge vir diegene wat wette en regulasies oortree nie. In die laaste maand het 113 munisipale rade op ʼn onwettige wyse begrotings goedgekeur sonder enige geld. Munisipaliteite onder Artikel 139-administrasie gaan in die meeste gevalle verder agteruit. ʼn Voorbeeld was Dinsdag, 9 Julie, toe ʼn balju van die hof beslag gelê het op die bankrekeninge van die Mafube-plaaslike munisipaliteit in die Vrystaat wat reeds langer as twee jaar onder administrasie is. Die munisipaliteit het geen bankrekening nie. Hy kan nie dienste lewer of salarisse betaal nie. Hoe is so iets moontlik?,” wil Wessels weet.
“Daar bestaan geen verantwoording of die politieke wil om iets aan die probleem te doen nie. Die departement het talle programme ter ondersteuning van munisipaliteite, maar niks gebeur nie. Vyf jaar gelede is die sogenaamde “Back to Basics”-program in werking gestel om oplossings te vind, maar ook hier het niks gebeur nie.
“Die departement kan wel nie lukraak die pligte van plaaslike regering oorneem nie en dit is reg so, maar die realiteit is dat die munisipaliteite waar dit die slegste gaan, onder ANC-beheer is,” sê Wessels.
Hy is van mening dat munisipaliteite in Suid-Afrika kleiner gemaak moet word, maar sê die teenoorgestelde sal egter waarskynlik gebeur in stryd met die aanbevelings van die finansiële en fiskale kommissie. Dorpe en streke word saamgevoeg om groot munisipaliteite en metrorade te vorm, maar al wat verbeter, is die salarisse van raadslede en amptenare, sê hy.

“Die krisis kan net beredder word deur elke dorp sy eie munisipaliteit met die beste, gekwalifiseerde personeel soos plaaslike ingenieurs te gee. Hulle is beskikbaar. Of dit sal gebeur, is te betwyfel aangesien die ANC munisipaliteite misbruik vir kader-ontplooiing.
“Die VF Plus se boodskap aan die ANC-regering in dié verband is duidelik: Tree daadwerklik op en tree op sonder verwyl. Net dit kan die krisis rondom plaaslike regering oplos wat ʼn wesenlike bedreiging vir Suid-Afrika se toekoms inhou,” sê Wessels.

Related Articles

Back to top button