News

AMSA-afleggings dalk die eerste van vele in staalindustrie, sê Solidariteit

Vakbond waarsku dat indien rolspelers in die staalindustrie nie dringend ingryp nie, die nuutaangekondigde afleggings dalk slegs die begin van nog vele ander is.

 

Solidariteit het vandeesweek gesê dat hy die afleggingskrisis waarin ArcelorMittal Suid-Afrika (AMSA) hom tans bevind, betreur. Hy het ook gewaarsku dat indien rolspelers in die staalindustrie nie dringend ingryp nie, dié afleggings dalk slegs die begin van nog vele ander is.

Dit volg nadat Solidariteit ʼn 189A-afleggingskennisgewing ontvang het. Marius Croucamp, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit skryf die afleggings, onder andere, toe aan Eskom se verhoging in kragtariewe en die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) wat nie ag geslaan het op die staalreus se hulpkrete nie. “Ons het Nersa gewaarsku dat dié verhoging die industrie gaan vernietig. Tog is daar voortgegaan en moet gewone werkers nou die kostes dra.”

Croucamp sê voorts dat selfs die versoekbrief wat Solidariteit op 11 Junie aan die minister van handel en nywerheid gerig het, wat dringend versoek dat die minister rolspelers in die industrie byeen moet roep om die uitdagings te bespreek, op dowe ore geval het.

Volgens Croucamp het die onlangse instelling van die koolstofbelasting die industrie onder verdere druk geplaas en speel dit ook ʼn groot rol in die afleggings wat AMSA tans in die oё staar. “Die tydsberekening van dié instelling was heeltemal verkeerd, omrede Suid-Afrika dit nie tans kan bekostig nie. Hoër insetkostes in die staalbedryf, wat reeds onder enorme druk verkeer, het noodwendig werksverliese tot gevolg,” het Croucamp gesê.

Croucamp sê voorts dat indien AMSA die afleggings deurvoer, Solidariteit in die beste belang van sy lede sal optree. “Solidariteit sal alles in sy vermoë doen om te verseker dat sy lede wat deur hierdie proses geraak word, die voorgestelde skeidingsvoordele en die nodige steun in hierdie moeilike tyd ontvang,” het Croucamp gesê.

Croucamp voer aan dat in die konteks van die geweldige druk wat die staalbedryf tans beleef, dié aankondiging die spanning vererger. “Indien daar nie dringend ingegryp word deur alle rolspelers nie, sal al hoe meer maatskappye afleggings in die gesig staar. Solidariteit vra die regering om sy pligte na te kom en seker te maak maatskappye kan in Suid-Afrika volhoubaar voortbestaan. Dit moet gedoen word deur kragtoevoer te verseker en versmorende regulasies te hersien,” het Croucamp saamgevat.

Related Articles

Back to top button