NewsNews

Net 13% van vee was teen 2014 gemerk

Net 13% van vee was teen 2014 gemerk

Omdat die 32 gesteelde skape gemerk was wat op 20 Junie tydens ’n groot deurbraak deur boere van die Parys-distrik, die plaaslike polisie, Veediefstaleenheid en Boere Veediefstal Inligting Sentrum teruggekry is, het dit bygedra om die polisie en Veediefstaleenheid se werk makliker te maak.
So sê Herman van Wyk en Sarel van der Wat van die Koepel Veediefstal Inligting Sentrum (VIS).
Tog gebeur dit steeds dat daar boere is wat nie hul vee merk nie. Volgens Willie Clacke, voorsitter van die Nasionale Veediefstal Voorkomingsforum, is ’n opname in 2014 gedoen waarvolgens toe gevind is dat net 13% van vee in die land gemerk was, en 87% ongemerk. Daar is nou weer gevra vir ’n opname waarvan die uitslag teen November bekendgemaak sal word. Clacke sê veediewe steel beslis nie meer net ongemerkte vee nie, maar is dit verblydend dat die merk van vee oënskynlik toegeneem het sedert die laaste opname gedoen is.
Vee word gewoonlik gemerk deur hulle te brandmerk (gewoonlik eers op die ouderdom van ses maande), of deur oortatoeëring wat reeds op vroeë ouderdom gedoen kan word, of deur mikroskyfies.
Die Koepel Veediefstal Inligting Sentrum wat die eerste oorgrenssentrum van sy soort in die land is, en die Vrystaat en Noordwes-Provinsie insluit, moedig daarom boere aan om eerder hul vee te merk. Mense wat meer inligting oor die Koepel VIS wil hê, kan Sarel van der Wat by 083 284 6392, of Herman van Wyk by 082 770 9444 kontak.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button