NewsNews

DRUKKERS WAT NIE WIL DRUK NIE

Die oukie van IT is onrusbarend stil. Min weet hy dat ek reeds vantevore met kompertrauma te doen gehad het.

Liewe Persoon

Op varsity het ek ‘n dosent gehad wat net botweg geweier het om enige verskoning – hoe geloofwaardig ookal, te entertain. Hy sou met elke opdrag dieselfde waarskuwing gee: “Dames en here, moenie my probeer nie. Ek wil nie hoor van drukkers wat nie druk nie!”

En dit was toe ook so.

Die hond kon jou referaat verslind, ‘n sjokolademelkie kon in jou klasdrafsak uitloop (en jou notas verwoes), ‘n rekenaarvirus kon oornag jou Documents-leêr opvreet, ‘n oorywerige mansvriend met ‘n verloofring in die Kaf kon jou voete onder jou uitslaan en, Pavarotti homself kon in die Amfi optree: geen verskonings is geduld nie.

En hier sit ek vandag, baie jare later, met ‘n drukker wat (regtig) nie wil druk nie én ‘n internet wat nie wil Google nie! En dit is erg frustrerend. My gedagtes dwaal ver terwyl die oukie van IT baie hard probeer om kalm te bly en die dinge weer aan die gang te kry, maar dit lyk nie belowend nie (nie vir hom nie, en ook nie vir my nie). En glo my, ek het elke trick in die boek probeer: ‘n ticket geskep op die sisteem, die IT-kantoor (male sonder tal) gebel en selfs ‘n hooggeplaasde (of ses) se naam roekeloos rondgeslinger.

Maar die drukker wil nie druk nie, en die internet wil nie Google nie.

Ek dink terug aan soortgelyke varsity trauma, en kry lag vir hoe diesulke krisisse vir my na die einde van die wêreld gevoel het. Hulle sê hindsight is a perfect science, en as ek nou aan daardie jare dink wil ek op ‘n stoel klim en vir my jonger self skree: Haal asem en ontspan die boude! Histerie is vir grootmense wat werk en belasting (en televisielisensies) betaal.

Daar is veral een voorval in my finalejaar wat my voorwaar binne enkele minute in ‘n verwese akademiese wrak verander het. Ek wonder of Karools en Elbie dit onthou? Dit was in September van 2001. Die opdrag was eenvoudig genoeg: skep ‘n webblad tydens ‘n praktiese klas met mnr van Rooyen. Dis nou die einste Meneer  wat geen verskoning geduld het nie.

Niks van my webblad wou werk nie, en ek was al lus om op te skop toe Elbie en Karools (versigtig) voorstel dat ek die Control+Alt-kombinasie uitprobeer. Met dié shortcut sou ek soos ‘n keyboard warrior van ouds beheer neem oor ‘n sisteem wat ek met vreemde en paniekerige coding in chaos gedompel het. (Min het ek geweet dat dit eintlik ‘n PICNIC probleem was: Problem In Chair Not In Computer, maar dit daar gelaat.)

Ek het nie op my laat wag nie, en het laat waai met dié raad. Skielik het my skerm begin flikker en my webblad het net daar en dan in die abyss van die interweb verdwyn.  Ek is seker die dosent kon my vrees ruik, want die volgende oomblik was hy daar om punte te gee. Ek het verduidelik dat alles net verdwyn het en dat ek regtig egtig ‘n webblad gehad het, ek kon dit net nie vir hom wys nie. Die feit dat my dokument die lagwekkende naam van ‘grootgesukkel1’ gehad het, het ook nie gehelp nie. Wie noem dan nou ‘n webblad so? En meer nog: waar is die bewyse dat dit inderdaad so ‘n gesukkel was? Die dokument was blank, die dosent genadeloos en ek was in trane.

Die resultaat: ‘n groot ronde nul! Laasgenoemde was natuurlik ‘n eerste vir my en ek het vas geglo dat ek my graad sou pluk en noodgedwonge by ‘n inbelsentrum sou moes werk.  In my geestesoog het ek gesien hoe ek in my ouers sy buitekamer intrek en vir die res van my lewe katjiebotter (peanutbutter) broodjies vir middagete sou moes eet.

Karools en Elbie het oogkontak vermy. Op pad kar toe het Elbie wel genoem dat ek moet ophou grens, want (1) dit behaag nie ‘n finalejaar nie, (2) my ma sou skrik en dink ek het iets verskrikliks oorgekom (al was dit wel die geval) en (3) my jaarpunt in webontwikkeling sou my nerf-af basvel red.

Einde van die storie: ek het my graad cum laude geslaag. En nee, tot vandag toe gee ek  my nie uit as ‘n webontwerper nie. Ek het ook nog nooit weer die Control+Alt doodskok gebruik nie.

Die oukie van IT is onrusbarend stil. Min weet hy dat ek reeds vantevore met kompertrauma te doen gehad het. Ek is ‘n sterk (maar ongeduldige) baba. Ek bel hom sommer nou weer, want die drukker druk (steeds) nie en die internet wil nie Google nie.

Related Articles

Back to top button