NewsNews

OG skets donker prentjie oor munisipaliteite

OG skets donker prentjie oor munisipaliteite

In die Vrystaat, Limpopo en Noordwes was daar nie een munisipaliteit wat met die 2017/18 boekjaar ‘n skoon oudit kon kry nie. Boonop sê die OG dit lyk asof munisipaliteite nie ag slaan op aanbevelings nie.
Tog sê die Ngwathe munisipale bestuur by monde van sy waarnemende munisipale bestuurder, me. Phumzile Nhlapo, dat hulle positief is oor die verslae vir die huidige boekjaar wat op 30 Junie vanjaar ten einde geloop het. Sy sê die munisipaliteit het alles in sy vermoë gedoen om die leemtes wat uitgewys is met vorige OG-verslae aan te spreek. Die nuutste OG-verslag sal na verwagting teen November/Desember bekend wees.
Die Ouditeur-generaal (OG), Kimi Makwetu, het verlede week terugvoer gegee oor die 2017/18 ouditverslae tydens ‘n mediakonferensie in Pretoria.
By die konferensie is gesê dat slegs 8% oftewel 18 van die land se 257 munisipaliteite en 21 munisipale entiteite in die boekjaar tot einde Junie 2018, skoon oudits gekry het.
Net 22 munisipaliteite se oudits het verbeter, terwyl 63 munisipaliteite se oudits nog slegter gelyk het. In totaal het 34% van munisipaliteite se uitgawes hul inkomste oorskry.
In vyf provinsies is 18 munisipaliteite in die boekjaar wat 30 Junie 2018 geëindig het, onder administrasie geplaas. Onreëlmatige uitgawes het egter van R29,7 miljard na R25,2 miljard verminder. Hoewel daar provinsiale ingryping by sommige munisipaliteite was, was dit klaarblyklik nie doeltreffend nie, en het die skuldlas van munisipaliteite verhoog van R4,8 miljard na R6,1 miljard vir die 2017/18 boekjaar. Wat die Vrystaat betref, sê die OG dat interne beheermaatreëls by plaaslike regerings in dié provinsie ineengestort het, en dat politieke inmenging tot nadeel van goeie regering was.

 

Related Articles

Back to top button