NewsNews

Hy pik soos ‘n hoender vir die snaakshede

Ek hou van jul dorp, sê hy!

Dis al of jy die geroosterde kaasbroodjies kan proe as jy in jou gedagte inskuif by die familieskare wat Sondagaand die kleurskyfies een-vir-een deurwroeg op die doek teen die muur. Hy trek jou humorsnare met sy pittige vertellinge tot jy selfs die amateur-videograaf se duim-afdruk op die skyfie kan sien.
Vra jy wie hy is, beskryf hy homself as geseënde middeljarige man, wat omtrent oral in die land gebly het omdat sy pa polisieman was. Alles beleef het omdat hy getroud is en pa van drie wat 9 honde grootgemaak het. ‘n Gebuigde sleepwa besit en ‘n huisverband wat groei by die jaar.
Op sy dag was hy assistentstoker, en selfs spioen wat tyd saam met wyle Nelson Mandela spandeer het, en lyfwag was vir Pik Botha.
So ry hy op ‘n dag 3 maande gelede deur Parys wat hy ken vir die kere se gholfspeel en balle in die Vaalrivier geslaan, en sien hy die Kultuurkamer se geel banier.
So kom dit dan dat Blouwillem  hier kom vertel van sy boek “50 Blertse Blou” en saamkuier om die potte sop.


In middel Maart vanjaar het sy 1 000ste rubriek verskyn . Rubrieke wat oor jare lesers van die Beeld en Volksblad aan die praat het met sy satiriese skrywes.
Hy spot oor die veelbesproke “50 Shades of Grey” as hy vertel hoe die gedagtes in sy kop die pennevrug geword het van die 50 Blertse Blou wat in sy nuutste pennevrug vervat is. “Selfgeplagieerde nuutskeppings” sê hy.
Die figure in sy rubrieke het regte name en gesigte, sê hy as Dawid Gericke hom vra. Vriende en familie soos Dik Daan, ou Johnny en Bartel van wie hy skryf. En of hy nou oor Frazer Moelikgeidjie, Max die gorilla se skielike roem, of die tannie skryf wat die kerkorrel in Memel aan die brand gespeel het – Blouwillem is soos ‘n hoender wat sit en pik vir die snaakshede in die koerant om sy lesers aan die lag te kry.
Sy lewensuitkyk – om solank sy oë oop is te lewe. En elke Vrydagaand tree hy af saam met sy tjomme met ‘n lekker ete.

“Daar’s nog genoeg goeie goed wat met ons gebeur, soos vandag,” sluit hy af na sy geselsie in ‘n vol Kultuurkamer en sê: “Ek hou van jul dorp!”
* Lucia Gericke het in 2011 met ‘n private biblioteek in haar huis in Parys begin waar mense wat lief is vir lees, boeke kon uitneem. Aanvanklik was dit genoem die Boek Boutique.
In 2016 het die biblioteek verhuis na die ou kerkie in die Fredericksgebou in Waterstraat en kry dit toe ‘n nuwe naam, Die Kultuurkamer wat ‘n kultuursentrum in die kleine sou word met veel meer as net ‘n biblioteekdiens.
Tans is die biblioteek Woensdae, Donderdae en Vrydae tussen 09:00 en 16:30 oop, en Saterdae van 09:00 tot 11:00. Naas boeke vir oud en jonk in beide Afrikaans en Engels, en ‘n spesiale speelhoekie vir kinders, word daar Vrydagoggende fliek gekyk en selfs klein funksies op versoek van tyd tot tyd hier aangebied.
Dan is daar ook nog die boekklub wat hier elke maand bymekaar kom vir boekbesprekings, wat afgewissel word met besprekings van tydskrifartikels en ander genres soos digkuns, reisverhale en meer wat lede raakloop en wil deel.
Vanjaar is ook begin met boekbekendstellings en was Blouwillem die eerste aan die woord.

Related Articles

Back to top button