NewsNews

Ngwathe elektrisiteitsmeters en Cigicell – deel 2

So raak die ooreenkoms jou.

In deel 1 van hierdie artikel is reeds gewys op verskeie voordele wat die ooreenkoms met Cigicell vir die verkoping van krag vir die Ngwathe-munisipaliteit inhou. Volgens VF Plus raadslid, Phillip van der Merwe, is daar nog etlike verdere voordele daaraan verbonde, waarvan sommige hieronder vermeld word.

1. Cigicell sal op eie koste al die grootmaatkragverbruikers se verbruik oudit om te bevestig dat dit korrek gemeet en gehef word. Indien gevalle gevind word waar kragverbruik wel foutiewelik gemeet of gehef word, sal Cigicell geregtig wees op vergoeding van 10% bereken slegs op die addisionele inkomste wat die gepaardgaande regstelling vir die munisipaliteit inbring. Die munisipaliteit kry dus 90% van die voordeel wat uit die opsporing en regstelling van die fout spruit.

2. Cigicell sal die koste van verskaffing en installering van die nuwe voorafbetaalde meters by kleinmaatverbruikers by wie die munisipaliteit tans geen inkomste uit elektrisiteitsverkope genereer nie, finansier. Die munisipaliteit, wat reeds ernstige kontanttekorte ervaar, sal geen kapitale koste in die verband benodig nie. Wanneer ‘n nuwe meter geïnstalleer word by ‘n verbruiker wie se meter òf defek òf uitgebrug is en sodanige verbruiker gevolglik begin betaal, of dan korrek betaal vir die krag wat hy/sy verbruik, sal 50% van die bedrag waarmee die munisipaliteit se inkomste verhoog, gemeet teen die verbruiker se gemiddelde aankope vir die afgelope 12 maande, aan Cigicell betaal word totdat die koste van die nuwe meter gedelg is. Die munisipaliteit kry aanvanklik dus 50% van die addisionele inkomste wat verhoog na die volle inkomste gegenereer uit die betrokke meter sodra Cigicell se koste betaald is.

3. Cigicell sal ook, indien nodig, finansiering voorsien vir daarstelling van hoëkoste infrastruktuur soos transformators en substasies en wel teen aanvaarbare finansieringskoste en oor redelike betalingstermyne wat onderhandelbaar is soos wat van tyd tot tyd nodig mag raak.

4. Tans het die munisipaliteit geen meganisme om te kontroleer dat die grootmaat elektrisiteit wat Eskom aan hom verskaf korrek deur Eskom gemeet en gefaktureer word nie. Cigicell kan behulpsaam wees met die daarstelling van eie kontrole wat die munisipaliteit parallel met Eskom se meters sal kan installeer om te verseker dat Eskom se rekeninge aan Ngwathe inderdaad korrekte lewerings weerspieël en die munisipaliteit dus vir die korrekte hoeveelheid verbruik betaal.

5. Buiten vir die vasgestelde dienste wat Cigicell ooreenkomstig die kontrak moet lewer, het die munisipaliteit die opsie om, waar dit nodig of wenslik geag word, ook gebruik te maak van ander spesialisdienste wat Cigicell kan lewer bv. hulp met skuldinvordering, meterlesingsdienste, fakturering van verbruikers, toets van meters en vele meer. Hierdie dienste is egter nie deel van die hoofooreenkoms nie en kan die munisipaliteit self van tyd tot tyd besluit of en, indien wel, tot watter mate, voordelig van sulke dienste gebruik gemaak kan word.

Related Articles

Back to top button