NewsNews

Doeke en warm water vir Kegan (12)

Kort na die berig oor hul nood in die koerant verskyn het, het Valies hul harte oopgemaak.

VANDERBIJLPARK. – “Die omgee en hulp uit die gemeenskap het my, en veral klein Kegan, se lewensomstandighede soveel verbeter. Ek kan nie genoeg dankie sê nie.”
Dit is die woorde van Krystle Claassen van die dorp. Sy is die ma van 12-jarige Kegan Holl, ’n skattige verlamde Down-sindroomlyertjie.
Vaalweekblad het kort na Kegan se geboorte vir die eerste keer oor hom berig. Hy was van geboorte baie siek en gereeld in en uit hospitale. Hy was maar net ‘n babatjie toe hy met brongiale longontsteking gediagnoseer is.
Maar dit was nie die ergste skok wat op sy ouers (Krystle en Martin Holl) gewag het nie. Op die ouderdom van net 18 maande is daar bevind dat Kegan verlam is. Die rede hiervoor is Germ Cell-kanker wat al die kussinkies tussen sy rugwerwels weggevreet het.
Na ‘n lang stryd en vele chemo-behandelings was Kegan uiteindelik kankervry.
Vaalweekblad het sowat vier weke terug weer oor Kegan en sy moeilike lewensomstandighede berig.
Krystle het verduidelik dat hulle as gesin sukkel om kop bo water te hou. Kegan moet Molicare-doeke (medium) dra. Een pak doeke kos sowat R170 en Kegan gebruik sowat drie pakke per week.
Sy biologiese pa is jare gelede in ‘n motorongeluk oorlede. Die trustgeld wat uitbetaal het, word jaarliks net so inbetaal vir Kegan se skoolgeld. Hy is tans in die Wings for Life Skool in Vanderbijlpark en koste beloop sowat R40 500 per jaar.
Nog ‘n groot probleem was dat die gesin reeds die afgelope 10 maande sonder ‘n geyser moes leef.
Hulle woon in die CW5-laekoste behuising en was op ‘n waglys vir die herstel van die geyser, maar daar is ander inwoners wat al langer as drie jaar op dié waglys is.
Kort na die berig oor hul nood in die koerant verskyn het, het Valies hul harte oopgemaak.
Verskeie doeke-skenkings is gemaak. Die eienaars van Stephenson Spar het selfs ‘n spesiale fonds geloods om Kegan te help.
‘n Egpaar van die dorp (albei reeds op pensioen) het ook geld geskenk om ‘n nuwe geyser te laat installeer.
Clinton van Hecke, ‘n vriend van die egpaar se seun, het daarna gehelp reël dat die geyser deur Willie van 27/4 Geyser (073 402 4818 indien mense hom wil ondersteun), gratis geïnstalleer word.
Clinton bedank Willie nogmaals vir die hulp, asook vir Jamie Maree van Riverside Mica (016 932 3131) wat die geyser teen koste, met 50% afslag verkoop het.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button