NewsNews

Hokaai met leiwater-planne: Wat van dorpstigting voorwaardes

En terwyl meeste inwoners hul kommer uitgespreek het oor die wetlike aspekte van die moontlikheid van die afskaffing van leiwatervoorsiening en dat hul nie geken word in die kwessie nie, was daar ook ander wat op Gazette se Facebook-blad aangedui het dat hul nog nooit leiwater ontvang het nie, maar steeds daarvoor op hul diensterekening moet betaal.

Om Parys se leiwatervoorsiening te staak, is makliker gesê as gedoen.
So sê die publiek van Parys wat skerp gereageer het na die berig in Gazette op 6 Junie, oor die beplande staking van die dorp se leiwater.
Hannes de Wet, oud munisipale amptenaar van Parys, se mening is dat daar regsaspekte ter sprake kan kom, sou dit wel gebeur. Hy sê met die stigting van Parys, en met nuwe uitbreidings in die dorp, is ’n klousule en voorwaarde in die aktekantoor geregistreer dat leiwater aan elke woonperseel voorsien moet word
Die gevolg was dat leiwatervore as ’n serwituut oor erwe in die akte kantoor, ten gunste van die munisipaliteit geregistreer is.
Die voorwaarde klousule dat leiwater op erwe voorsien moet word, moet dus by dorpstigting en by die aktekantoor opgehef word, sê hy.
Mnr. Koos van Coller stem saam. Hy sê dat met die stigting van Parys het die drie Van Coller broers die grond vir die dorpstigting geskenk juis met die voorwaarde in die skenkersakte dat elke inwoner leiwater moet hê. Dit sou die munisipaliteit van ’n belastinginkomste voorsien.
Solank as wat Parys bestaan is leiwater ’n deel van die dorp. Meer nog die breë strate, plattelandse atmosfeer en leiwater wat in die leivore afloop, het al menige besoeker aan die dorp so bekoor dat daar, daar en dan besluit is om die dorp hul tuiste te maak.
Op Vrydag 31 Mei het ’n mosie voor die Ngwathe Raad gedien vir die afskaffing van Parys se leiwater-diens, wat dan ook sal beteken dat inwoners vanaf 1 Julie nie meer vir die diens op hul munisipale rekeninge sal hoef te betaal nie.
Die mosie is ingedien na aanleiding van ‘n verslag uit die IDP mediumtermyn begroting wat na die raad verwys is. In die verslag word die aanbeveling gemaak dat die leiwatertarief afgeskaf en die diens gestaak moet word, omdat die munisipaliteit nie meer in staat is om die diens volhoubaar te kan lewer nie.
Tydens die raadsitting het Vryheidsfront Plus rdl Phillip van der Merwe, gesê dat die voorstel om die leiwater af te skaf nie wys is nie, en heroorweeg moet word.
Die trae en gebrekkige instandhouding en skoonmaak van die dorp se leiwatervore en kanale wat gewoonlik in die wintermaande gedoen word, skep al vir jare ‘n probleem met leiwater wat dan maande laat eers na die winter voorsien word.
Die beplande afskaffing van leiwatervoorsiening laat egter ernstige kommer oor wat die effek daarvan op die dorp se reeds kritieke watertekorte sal hê met mense wat dan ook munisipale water vir hul tuine sal gebruik.
Wat nog meer kommerwekkend is dat die leiwater infrastruktuur tot niet sal gaan wat dan ook ernstige implikasies vir Parys sal inhou wat betref stormwater wat ook in die vore afgevoer word.
As die leivore en kanale nie instand gehou word nie, kan selfs nog groter skade aan die dorp se paaie kom. Soos dit is, is daar bykans nie meer ’n straat in Parys wat nie slaggate het nie. Sommige so ernstig dat daar beswaarlik gery kan word.
En terwyl meeste inwoners hul kommer uitgespreek het oor die wetlike aspekte van die moontlikheid van die afskaffing van leiwatervoorsiening en dat hul nie geken word in die kwessie nie, was daar ook ander wat op Gazette se Facebook-blad aangedui het dat hul nog nooit leiwater ontvang het nie, maar steeds daarvoor op hul diensterekening moet betaal.
En voorstelle dat die diens eerder geprivatiseer moet word.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button