NewsNews

Kanker blus nie NWU-student se vuur

Kanker blus nie NWU-student se vuur

“Ek het in myself geglo. Ek het geweet ek kan, ek het geweet dat ek dit vir myself en ander moet doen sodat my storie nooit sal eindig nie.”

Die storie van oud-Puk student Ansoné Human (25) is beslis een wat sal voortleef. Sy het dit bewys toe sy verlede Woensdag (29 Mei) op die verhoog gestap het om haar meestersgraad te ontvang. Sy het die graad, ten spyte van ’n stryd met bloedkanker, steeds voltooi.

Ansoné het haar hoërskoolloopbaan aan die Hoërskool Wolmaransstad voltooi, waarna sy en haar tweelingsussie in 2013 beide hul studies in B.Sc. Aktuariële Wetenskappe aan die NWU se Potchefstroomkampus afgeskop het.

“Almal het my altyd vertel hoe verskriklik moeilik dit is en hoe erg wiskunde-intensief die kursus is,” sê sy. Sy het juis die rigting gekies omdat sy die uitdaging wou aanpak.

Ansoné het ʼn toekenning by die NWU se Sentrum vir Bedryfswiskunde en Informatika (BWI) ontvang vir die deursettingsvermoë wat sy tydens haar navorsingsprojek getoon het. Hier is sy saam met personeel en die direkteur van die BWI.

Ansoné het ʼn toekenning by die NWU se Sentrum vir Bedryfswiskunde en Informatika (BWI) ontvang vir die deursettingsvermoë wat sy tydens haar navorsingsprojek getoon het. Hier is sy saam met personeel en die direkteur van die BWI.

Ansoné het in 2015 haar eerste graad verwerf en in 2016 het sy haar honneursgraad in B.Sc.

Kwantitatiewe Risikobestuur voltooi. Sy het in 2017 met haar meestersgraad in dieselfde rigting begin, maar net twee maande nadat sy begin het, het sy erge rugpyn begin ervaar.

“Omdat ek voorheen ’n rugbesering gehad het, het ek aanvaar dat die rugprobleem net terug is. Ek het dadelik met fisioterapie begin,” sê sy. Haar rugpyn het egter net erger geraak en sy het bloedtoetse laat doen.

“Ek het histeries na die hospitaal gegaan met my bloedtoets se uitslae, so bang dat ek bloedkanker het.” Ansoné is in die hospitaal opgeneem en positief vir nierstene getoets. Haar nierstene is verwyder en sy is na twee weke weer huis toe.

“Die pyn was weg en ek was verskriklik bly en verlig dat dit niks ernstig was nie.”
Twee weke daarna het haar pyn egter weer teruggekom. Sy was gereeld in en uit die hospitaal weens pyn. Die oorsaak van die pyn kon nie verduidelik word nie en dit het tot einde Augustus 2017 aangegaan. Selfs ’n pynblok in haar rug kon nie die pyn wegneem nie.

Ansoné Human het ten spyte van 'n stryd met kanker, verlede Woensdag haar meestersgraad ontvang.

Ansoné Human het ten spyte van ‘n stryd met kanker, verlede Woensdag haar meestersgraad ontvang.

Na verdere toetse het Ansoné die nuus gekry – sy het akute limfoblastiese leukemie.
“Toe die dokter dit vir my sê het ek nie gehuil nie, maar ’n amazing gevoel van rustigheid het oor my gekom. Ek het geweet alles gaan okay wees, ek gaan gesond word,” sê sy.
Sy het haar behandeling by die Netcare-hospitaal in Pretoria-Oos ontvang.

“Ek het daar ingestap en nie geweet wat vir my voorlê nie. In my wildste drome het ek nie gedink dat my lewe so ’n draai sou neem nie,” sê sy. Ansoné is met ’n baie aggressiewe bloedkanker gediagnoseer en moes dadelik met intensiewe chemoterapie begin.

“Ek het dit so aanvaar. Ek het geweet ek gaan al my lang hare verloor en ek gaan heeltyd van die chemoterapie verskriklik siek wees. Ek het geweet ek moet nou veg soos nooit tevore nie, maar tog het ek geweet dat ek ’n ongelooflike storie van oorwinning gaan hê om te vertel.”

Weens die feit dat Ansoné ’n chromosoom-defek het, het sy net twee rondtes se chemoterapie ondergaan. Sy moes ook bestraling kry waarna sy ’n stamsel-oorplanting gekry het. Beide haar broer en tweelingsuster kon stamselle vir haar skenk en haar broer was toe die een wat haar lewe op die manier gered het.

Ansoné het deur haar kankerstryd positief gebly want sy het geweet sy sal dit oorwin. Foto’s: Verskaf

Ansoné het deur haar kankerstryd positief gebly want sy het geweet sy sal dit oorwin. Foto’s: Verskaf

Dit was ’n sukses en Ansoné kon einde Maart 2018 terugkeer na haar studies en het haar meestersgraad voltooi. Sy skryf dit toe aan die Here, haar ouers, haar verloofde en almal wat haar in dié tyd bygestaan en ondersteun het.

“Al my krag het uit die Here se hand gekom. Soms het ek nie geweet waar ek die krag kry nie, maar ek wou dit so graag hê. Ek wou so graag klaarmaak waarmee ek begin het. Ek kon nie aan die ander kant uitkom sonder ’n meestersgraad nie.”

Deur al die ondersteuning en om in haarself te glo het sy haar meestersgraad se onderskeiding met slegs 2% gemis en het sy haar hoofprojek met ’n onderskeiding geslaag.

Vandag is sy weer ’n gesonde, gelukkige jong meisie met haar meestersgraad in haar sak en haar troue om die draai.

“My tweede kans kan nie net ’n tweede kans wees nie. Dit moet ’n lewe wees waaroor boeke geskryf word en flieks gemaak word. Aan die einde van die dag was dit nie ek nie maar Jesus wat my gedra het om hierdie mylpaal in my lewe te bereik,” sê sy.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button