NewsNews

Kom vier fees by die Vaal se wêreldrekordpoging!

Meer as R150 000 se pryse moet gewen word!

Die organiseerders gaan poog om ook ‘n tweede wêreldrekord te verbeter deur die meeste komberse ooit, binne 24 uur aan instansies te skenk wat dit onder minderbevoorregtes gaan uitdeel. Die plan is om minstens 9 075 individuele gebreide komberse te versprei.
Die Golden Vaal Blanket Drive is geloods deur die Golden Triangle Chamber of Commerce (GTCoC), Rotary Vanderbijlpark en LUSA-gemeenskapskas.
Die hoofdoel is om warm komberse onder liefdadigheidsorganisasies te versprei, maar terselfdertyd is dit ook ‘n opbouende, positiewe projek wat die Vaaldriehoek se warm hart aan die res van die land wys, sê Jaco Verwey, sameroeper van dié grootse poging. Duisende breiers van regoor Suid-Afrika het die afgelope maande aan die projek help werk.
Saam met dié wêreldrekordpoging gaan daar op 8 en 9 Junie heerlik by die DP de Villiers-stadion feesgevier word, met prettige aktiwiteite vir jonk en oud. Daar gaan onder meer ‘n 4×4-baan wees, spesiaal vir adrenalienverslaafdes, ‘n fietswedren wat deur die sportlegende Louis Harmse georganiseer word, en ‘n pretpark vir die kleingoed.
Besoekers kan ook aan wedstryde deelneem waarin derduisende rand se pryse te wen is. Sedgars borg byvoorbeeld ‘n diamant van R100 000, V-tec Trailers ’n Kruger-Rand, President Hyper R30 000 se koopbewyse, Tsogo Sun gee naweek-akkommodasie en ATKV bied vakansies as pryse aan!
Restaurante gaan dwarsdeur die fees heerlike kos en drank verkoop en daar gaan ook talle stalletjies met interessante artikels wees waardeur besoekers kan rondsnuffel. Kom luister gerus na die op-en-wakker klanke van topsangers uit die Vaaldriehoek, soos Manie Jackson, Refentse, Ray Dylan, Rinél Day, die Kannie Warries, Verona (wat nou op The Voice was), Elzé, Anton Myburg, Jennifer Jones en veel meer.
Skakel Sandy by 071 623 9608 vir verdere inligting as jy by enige van die projekte betrokke wil wees, of as jy wil kom help om die gebreide stroke van die kombers aanmekaar te werk en agterna weer los te maak as individuele komberse.
* Kaartjies vir die naweek se fees kos R50 per persoon of R120 per familie van tot vier mense. Dit kan nou reeds gekoop word by Dros Vanderbijlpark, El Paso Spur, RocoMamas, Julies Glas,

Stonehaven en Horse & River. Besoek die webwerf www.goldenvaal.co.za vir meer inligting. 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button