NewsNews

Bomslagoffers dink 45 jaar terug

Bomslagoffers dink 45 jaar terug

Hulle bel mekaar elke jaar op 17 Mei. Nie omdat iemand verjaar nie, maar omdat hulle mekaar herinner dat hulle die verwoestende bomontploffing oorleef het. Die ontploffing het in ‘n asbesgebou by die landdroskantoor in Potchefstroom plaasgevind toe Alec Victor ‘n selfgemaakte bom laat ontplof het.

Alec was die beskuldigde vir ‘n spoedoortreding en is R50 of 25 dae gevangenisstraf beboet. Hy was baie ontsteld omdat hy geglo het hy was onskuldig. Volgens hom was daar fout met die toerusting van die verkeersdepartement wat sy spoedoortreding gemeet het. Hy het probeer om sy onskuld in die hof te bewys, maar die landdros het hom skuldig bevind. Hy het daarna ‘n pakkie, so groot soos ‘n skoendoos, laat val en geel rook het daaruit begin trek. Dit het eers soos ‘n klapper geklink en toe het die oorverdowende ontploffing gevolg.

Alec Victor wat die bom in die hof laat ontplof het.

Twee mense is tydens die ontploffing dood – Alec wat die bom gemaak het en ‘n bekende Potchefstroomse prokureur, Henk Kloppers wat ‘n tree en ‘n half van hom gesit het toe die bom ontplof het. Kloppers het op ‘n ander verhoor gesit en wag. ‘n Derde persoon, Gerrit Schoonhoven, is net meer as twee weke na die ontploffing in ‘n hospitaal in Johannesburg oorlede. Hy was ‘n eiendomsagent van Potchefstroom.

Vandag, 45 jaar na die voorval, is Banie en Gert die enigste twee slagoffers in Potchefstroom wat nog leef. Destyds was hulle lede van die Transvaalse Provinsiale Administrasie wat dié dag deel van die hofverrigtinge was. Hulle was in hul dertigerjare toe die gebeure hul lewe onheroeplik verander het.

Gert het die meeste beserings opgedoen omdat hy langs Kloppers gesit het. Sy gesig was stukkend geskiet, sy kopbeen was beskadig en hy het ernstige brandwonde gehad. ‘n Vrou wat een van die omstanders was, het Gert dadelik hospitaal toe geneem en net vir hom gesê hy moet glad nie aan sy gesig raak nie. Die gebeure was so onwerklik en almal was so geskok dat hulle aanvanklik geen pyn gevoel het nie.

Banie wat nader aan die landdros gesit het was effens verder van die bom af. ‘n Houtsplinter het in sy rug vasgeskiet maar ook hy het nie pyn gehad nie totdat hy begin het om van die skok te herstel. Banie het dadelik hulp aan die slagoffers verleen deur hulle na die hospitaal toe aan te ry. Ongeveer 38 mense is in die ontploffing beseer en in die Potchefstroom Hospitaal behandel. Sommige van die pasiënte later na hospitale in Klerksdorp en Johannesburg oorgeplaas.

Die asbesgebou na die ontploffing. Twee mense is tydens die ontploffing dood en een is drie weke na die ontploffing oorlede.

Hoewel Gert en Banie ernstige fisiese skade opgedoen het, was die emosionele merk wat die ontploffing op hul lewe destyds gemaak het net so erg.

Gert vertel dat sy dogter, wat op daardie stadium maar sewe jaar oud was, ‘n paar weke na die slagting sielkudige behandeling moes ontvang omdat haar gesig begin skeef trek het. Sy het koerantuitknipsels van die gebeure versamel en ‘n plakboek daarvan gemaak. Die skok wat sy ervaar het na trauma waardeur haar pa gegaan het, het haar emosioneel só geraak dat haar liggaam fisies daarop gereageer het.  “Ek kon my nooit sover kry om die plakboek of enige artikels van die bomontploffing te lees nie. Ek het eers ongeveer vyf jaar gelede die moed gekry om deur die plakboek te blaai”, sê Gert terwyl hy die swart hardebandboek met die vergeelde koerantuiknipsels aan my oorhandig.

Hoewel Banie fisies beseer was, het hy gedink dit was nie nodig om in die hospitaal opgeneem te word nie. “Ek was nie so ersntig soos die ander beseer nie”, sê hy. Sy vrou, Julie vertel dat hy bloot net voortgegaan het met sy daaglikse roetine en weer begin werk het maar dat die mediese dokters voorspel het hy gaan ‘n terugval beleef. Hy is toe na ongeveer twee weke na die voorval in die psigiatriese hospitaal, Denmar opgeneem. Maande daarna het sy kollegas weer vermoed iets skort toe hy tydens ‘n padblokkade buite Potchefstroom vreemd begin optree het. Hy het geen konsentrasie gehad nie en gevaarlik naby voor aankomende verkeer ingeloop om dit te stop. Hy is toe vir ‘n tweede keer in Denmar opgeneem.

Ten spyte van die fisies en emosionele skade wat die ontploffing veroorsaak het, koester nie Gert of Banie kwade gevoelens jeens die bomplanter, Alec nie.

Alec het planmatig opgetree en wou doelbewus selfmoord pleeg. “Ek dink nie hy was reg in sy kop nie. Iets het in sy lewe verkeerd geloop om tot so ‘n stap oor te gaan” sê Banie. Gert het weer na die ontploffing ‘n snaakse assosiasie met die bomplanter gehad. Hy het van niemand gehou wat ‘n dik bril gedra het nie omdat Alec self ‘n dik bril gedra het. “Ek is is nie kwaad vir Alec nie. Ek dink hy het ‘n slegte huislike lewe gehad” probeer Gert sin maak uit die optrede van die man wat sy eie en twee ander mense se lewe in Mei geneem het.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button