News

Gesin verloor besittings in brand

Gesin verloor besittings in brand

So sê mnr. Gert Myburgh van Fochville, wat saam met sy gesin alles verloor het na ‘n brand verlede Sondagoggend in die huis wat hulle in Dorpstraat huur, ontstaan het.
“Dit was net so na 02:00. My seun en sy vriend het gelê en slaap toe hy wakker word met die kamer al in vlamme. Hulle het opgespring en my en my vrou kom roep,” sê mnr. Myburgh.
Die huis het vinnig begin brand en mnr. Myburgh het, nadat hy seker gemaak het dat sy vrou en seun en dié se vriend veilig uit is, weer teruggehardloop op die nodigste dokumente en die kar se sleutel te gaan haal.
Hy het ook telkemale in die rokende huis ingegaan om na die gesin se hond te gaan soek. Die hond is egter later dood langs die bed in die egpaar se slaapkamer, waar hy vermoedelik skuiling gaan soek het, gevind.
“My kind se klere het alles verbrand. My klere is so beskadig dat ek dit nie meer kan dra nie. In Fochville is hier darem mense wat ons gebel het en vir ons verblyf gegee het tot ons weer op ons voete is,” sê mnr. Myburgh.
Hoewel die gesin reeds baie hulp ontvang het, sal nog steun steeds waardeer word. Hulle beplan om dit wat dalk ekstra is, vir die kerk of ander wat dalk nood het, te gee.
“Mense het komberse en kussings gebring. Ek kort klere, maar verder het ons kos. Ons het reeds van die kos wat in die huis was, uitgedra om vir die mense wat ons help, te kan bydra. Hulle het ook nie beplan vir drie ekstra mense se kos en blyplek in hul dogter se kamer nie,” sê mnr. Myburgh.
Hoewel veral mnr. Myburgh, maar ook sy gesinslede rook ingeasem het, is hulle nie ernstig beseer nie. Hulle voel net jammer vir die eienaar van die huis, wat volgende jaar daarin wou aftree. Dié het darem versekering, maar dit is nie seker of dit al die skade gaan dek nie.
“Ons kan net vir die Here dankie sê dat hy sy hand oor ons gehou het en ons darem ‘n heenkome het in hierdie tyd van nood. Ek haal my hoed af vir Fochville se gemeenskap. Ons bly al tien jaar hier en het nog nooit so iets beleef nie,” sê mnr. Myburgh. Die brandweer en lede van die Fochville CPF-groep het ook gehelp om die brand te blus. Diegene wat nog kan help, kan mev. Aletta Myburgh by 079 017 2025 skakel.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button