News

Fokus op Vaal-rioolkrisis – Deel 1

341 miljoen benodig om riool-netwerk in Vaal te herstel

VANDERBIJLPARK. – Minister van Water en Sanitasie, Gugile Nkwinti, het met ‘n onlangse besoek  aan Sebokeng aangekondig dat ‘n bedrag van R341 miljoen bewillig is om die rioolkrisis in die Vaaldriehoek op te los.
Meer as 2 000 jeugdiges sal onder meer ook as skrynwerkers, loodgieters en bouers opgelei word en ook om die 400 pompstasies in die gebied op te pas tot die projek voltooi is. Die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit het verlede jaar landwyd die nuus gehaal toe mnr. Tito Mboweni, minister van finansies, voor sy mediumbegrotingsrede aangekondig het dat geld deur die nasionale tesourie bewillig is om die Vaalrivier van rioolbesoedeling te ‘red’ deur nodige herstelwerk aan watersuiweringsaanlegte en pompe in die Vaaldriehoek te doen.
Die lede van die weermag is op 18 November verlede jaar in die Vaaldriehoek ontplooi. Hul taak is om die Vaalrivier-sisteem te rehabiliteer deur die nodige remediërende aksies by die watersuiweringsaanlegte (eerste Sebokeng, dan Rietspruit en dan Leeukuil, asook 44 pompstasies) te doen. n Bedrag van meer as R800 miljoen is genoem om die werk te verrig en dit sou sowat ‘n jaar neem om dit te voltooi. Weermaglede sou onder meer sleutelpunte bewaak en lede van die reserwemag met hul tegniese kundigheid, sou saam met die amptenare van die departement van water en sanitasie die pompstasies herstel.
Onder hulle is ook kundiges soos ingenieurs. Kol. Andries Mahapa van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) het destyds gesê die departement van verdediging, van water en sanitasie, van samewerkende regering en tradisionele sake en Emfuleni het ’n samewerkingsooreenkoms aangegaan. Nou, vyf maande later, is die geld steeds nie oorbetaal nie. Die weermag moes reeds sowat R2 miljoen uit hul eie begroting betaal. Die geld is klaar en die werk is gestaak. Intussen is die bewaringsorganisasie Save the Vaal Environment (SAVE) weer op pad hooggeregshof toe oor die rioolbesoedeling van die Vaalrivier. Die keer om ‘n agtste hofbevel teen staatsamptenare en politici te kry om die rioolbesoedeling van die Vaalrivier te stop. Maureen Stewart,    SAVE se woordvoerder, het gesê hulle het die tradisionele sake en die Emfuleni Munisipaliteit voor die hof gedaag om gesamentlik verantwoordelikheid te aanvaar vir die voortslepende besoedelingskrisis in die Vaalrivier. Die saak is vir 14 Mei op die
ongeopponeerde hofrol geplaas. Intussen loop 140 miljoen tot 200 miljoen liter onverwerkte rioolafval steeds daagliks van Emfuleni se rioolsuiweringsaanlegte en rioolpompe in die Vaalrivier in. Gebiede wat die meeste geraak word:

* Die omstandighede in Peacehaven, Vereeniging, veral Waterkantstraat. Riool en rioolwater spoel uit mangate, in strome, en loop in die spruit na die Vaalrivier.

* By Shingwedzi woonstelblok in Generaal Hertzogweg is dit ‘n totale gemors… al die mangate loop oor en die reuk is ondraaglik, veral wanneer dit warm is en die son daar skyn.

* In die middestad van Vereeniging ‘verdrink’  sekere geboue onder riool. Kinders loop en speel kaalvoet in die riool in die strate en inwoners moes al onkostes aangaan om dreinering aan te lê om die water van die eiendom af te dreineer. ‘n Woonsteleienaar staan ‘n kans om al sy huurders te verloor weens die stank. Die ondergrondse pype is oral in die Vaal baie oud, so dit help nie om die pompe by die pompstasies te vervang nie, want die pype kan dit nie hanteer nie en loop dit dus oor in die strate. Feitlik al die pompe in Emfuleni se rioolstelsel is steeds stukkend en staan stil.

* In Vanderbijlpark het riool verlede week uit ‘n pyp by die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit se kantore in die sakekern gespuit. * Stewart waarsku dat mense stroomafvan die Vaalrivier daagliks aan ernstige gesondheidsgevare blootgestel word.

* Johan de Klerk, sameroeper van die Vaal-aksiegroep in Parys, het gesê die dorp se inwoners het moed opgegee met staatsdepartemente en is besig om hul eie planne in plek te kry en sal probeer om die rivier by hulle met ingenieursvernuf skoon te maak.

* By die Rietspruit, wat in Loch Vaal in die Vaalrivier invloei, is die E. coli-telling wat in die rivier beland 130 000/100 ml water. 400 dele E. coli /100 ml word as gevaarlik bestempel.

* Daar is hier en daar ‘n pomp (van die 44 in Emfuleni), wat soms werk, maar weens beurtkrag gaan staan alles weer stil. Emfuleni het nie dieselenjins om die krag aan te hou nie

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button