NewsNews

Drie vas na gewapende roof op Bult Woensdagaand

Die polisie het drie verdagtes in hegtenis geneem nadat hulle Woensdagaand (29 Mei) twee studente van hul selfone beroof het, en toe nog twee studente probeer beroof het.

Die polisie het drie verdagtes in hegtenis geneem nadat hulle Woensdagaand (29 Mei) twee studente van hul selfone beroof het, en toe nog twee studente probeer beroof het.

Volgens Fika Janse van Rensburg, voorsitter van die Cachet Park CID (City Improvement District) het die voorvalle omstreeks 20:14 Woensdagaand in Borcherdstraat (agter Virgin Active) plaasgevind.

Twee studente is deur vier gewapende rowers van hul selfone beroof. Die studente het Mooirivier Beskerming geskakel en die polisie is ontbied.

Die vier verdagtes is kort na die rooftog in Borcherdstraat op heterdaad betrap waar hulle besig was om nog ʼn studentepaar te beroof.

Volgens kol. Adéle Myburgh, provinsiale polisiewoordvoerder, het die polisie se Vispol Taakspan in samewerking met Mooirivier Beskerming die verdagtes gejaag. Drie van die verdagtes is vasgetrek en in hegtenis geneem. ʼn Vierde kon in ʼn Volkswagen Polo wegkom.

Die polisie het beslag geneem op ʼn gelaaide vuurwapen wat in die rowers se besit was.

Die drie verdagtes sal Maandag (3 Junie) op aanklag van poging tot roof, roof en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen verskyn.

Die polisie en Mooirivier Beskerming het drie van die vier rowers vasgetrek. Foto: FACEBOOK / Cachet Park CID NPC

Die polisie en Mooirivier Beskerming het drie van die vier rowers vasgetrek. Foto: FACEBOOK / Cachet Park CID NPC

Myburgh maan enige studente wat al slagoffers van soortgelyke misdade in die omgewing was, by die polisie aan te meld. Dit kan help om nog misdadigers vas te trek.

“Indien jy die polisie van hulp kan wees, meld jouself aan by die NWU-sekuriteitsdienste wat jou verder sal begelei. Saam sal ons die groter Bult area opnuut ‘ons plek’ maak!” het Janse van Rensburg ook gevra.

“Ons harte gaan uit aan die studente wat hierdie traumatiese belewenis moes ervaar. Ons werk saam dat hierdie voorvalle nie weer in die toekoms gebeur nie,” las hy by.

Related Articles

Back to top button