NewsNews

Beter, maar nog lank nie reg nie

Beter, maar nog lank nie reg nie

Hoewel daar die afgelope drie maande hard gewerk is om te probeer om die chaos op Parys se munisipale stortingsterrein en ook vir kilometers voor die terrein waar rommel weerskante van die pad gelê het, op te ruim, is daar nog baie wat gedoen moet word om beheer oor dié terrein te kry.
In ‘n oudit wat deur AfriForum drie maande gelede by 127 vullisterreine in al nege provinsies gedoen is, het Parys volgens dié oudit toe net aan 16% van wetlike vereistes voldoen.
Die dorp se stortingsterrein is boonop na die oudit gelys onder die 20 swakste vullisstortingsterreine in die Vrystaat.
AfriForum se oudit is gedoen as deel van hul nasionale projek om die gehalte van vullisterreine in Suid-Afrika te meet.
Hul verslag het bevind dat geen vullisterrein uit die 20 vullisterreine wat in die Vrystaat geoudit is, aan die nasionale standaarde voldoen het nie.
Die oudit het bestaan uit ’n lys van 33 vrae wat die minimum vereistes vir vullisterreine in Suid-Afrika meet, en het faktore ingesluit soos toegangsbeheer, brande, mediese afval, omheining en rehabilitasie. ’n Vullisterrein moet minstens 80% behaal om aan wetgewing te voldoen.
Die wetgewing word onder meer vervat in die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis, 2008 (wetno. 59 van 2008).
Volgens JP Nel, AfriForum se assistentkoördineerder vir die Hoogland-streek, is die meeste vullisterreine in die Vrystaat in ’n haglike toestand. “Al die vullisterreine wat geoudit is, is in ’n slegte toestand en slegs een vullisterrein het meer as 50% behaal. Dit kan hoofsaaklik toegeskryf word aan swak bestuur deur die munisipaliteite en regulasies en wette wat nie toegepas word nie. In sommige gevalle is daar terreine wat geensins instand gehou word nie, en waar vullis vir kilometers buite die terrein rondlê.”
Nel sê voorts dat die afwesigheid van afvalbestuurslisensies, mediese afval wat onwettig op terreine gestort word, asook swak kontrole en bestuur van die probleme is wat AfriForum tydens dié oudit opgemerk het.
AfriForum-takke sal nou druk op owerhede in hul gebiede plaas om afvalmoniteringskomitees te stig om die afvalbestuursproses te verbeter.
Dié komitees sal bestaan uit munisipaliteite en belanghebbende partye wat vullisbestuur in die betrokke dorp wil verbeter.
Die ouditverslag sal ook aan die Groen Skerpioene oorhandig word vir verdere ondersoek en optrede teen skuldige munisipaliteite.
AfriForum sê hy sal die proses deurlopend moniteer om te verseker dat vullisterreine op standaard gebring word.
Saal de Jager, oudraadslid van Parys het in sy kommentaar op die ouditverslag gesê dat die beste antwoord vir Parys sal wees om weer ‘n munisipale tuinvullis oorlaaistasie soos in die verlede vir die publiek daar te stel. Hy sê dat dit onwettige storting in en buite die dorp sal verminder en boonop werksgeleenthede kan skep. Die oorlaaistasie wat in die nywerheidsgebied van Parys was, is destyds gesluit omdat mense allerlei vullis daar begin stort het juis omdat die terrein nie beheer is nie.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button