NewsNews

Huisouers: Maak ’n verskil in dié kinders se lewens

As jy ‘n hart vir kinders het, dalk vroeg moes aftree maar nog ‘n verskil wil maak, is hierdie ‘n wonderlike geleentheid om ‘n kind se lewe aan te raak.

Soms is dit so maklik om net ‘n donasie te gee as jy hoor van nood. Wanneer dit egter by werklike medelye kom, is stilstaan om te luister, te hoor, en om jou innerlike in beweging te bring, soms baie moeiliker.
As jy egter kyk na die getalle van kinders in nood, sien jy die werklike krisis. Kinders wat nie net fisies mishandel word nie, maar soms ook seksueel, emosioneel en psigies benadeel word. In sulke gevalle word dit van die maatskaplike werker verwag om hierdie kinders uit onveilige huislike omstandighede te verwyder en na ‘n veilige omgewing te neem. ‘n Omgewing waar hierdie kinders liefde en sekuriteit sal ervaar, terwyl daar ook in hul daaglikse behoeftes voorsien word.
Die nood aan so ‘n veilige tuiste het VVA Parys gedwing om twee veiligheidshuise te ontwikkel.
Die huis in Tumahole funksioneer reeds, maar ’n tweede huis word tans in Vredefort ontwikkel waar ‘n kwaliteit beskermingsdiens aan dié kinders gebied kan word. Kinders wat toegelaat moet word om in ‘n veilige huis/tuiste in ‘n veilige omgewing te kan wees – een van die pilare van ‘n gelukkige samelewing.
Wat is ‘n veiligheidshuis?
Dit is ‘n tuiste waar kinders wat dringend uit hul ouers se sorg verwyder moes word, vir ‘n tydperk van hoogstens drie maande, in ‘n veilige omgewing kan bly tot die kinderhof besluit wat met die kinders moet gebeur.
Van die opsies wat oorweeg kan word is pleegsorg, ‘n jeugsorgsentrum of dalk terug in die ouers se sorg. Ongelukkig kan slegs ses kinders per geleentheid gehuisves word. Om hierdie huis gereed te kry is ‘n simpatieke en ondersteunende gemeenskap nodig wat sal help met onmiddellike behoefte soos meubels, nie-bederfbare kos, toiletware, ensovoorts.
VVA sê dankie aan elkeen wat reeds skenkings vir die veiligheidshuis gegee het. Dit word opreg waardeer.
Onthou as jy huis skoonmaak en wil weggooi, kan jy dalk hier ‘n verskil maak vir die kinders wat in die Veiligheidshuis gehuisves moet word. Jou weggooigoed is dalk vir ander bruikbare goed.
Alle skenkings is welkom. Items wat nie tans in die Veiligheidshuis gebruik kan word nie, gaan na VVA se Sakpaswinkel waar die inkomste daaruit weer aangewend word vir ander behoeftes in ons gemeenskap.
Naas meubels is die grootste behoefte vir die Veiligheidshuis egter huis- ouers. Die belangrikste vereiste vir huisouers is dat hul ‘n opregte omgee-hart vir kinders moet hê en in staat sal wees om ‘n positiewe vertrouensverhouding met daardie kind te bou, om die kind te help om positiewe vaardighede te ontwikkel en dus ‘n positiewe rolmodel vir die kinders te wees.
Om saam met die kinders geleenthede vir pret te skep. Om met empatie te kan luister as hierdie kinders ‘n behoefte het om te praat. Om ‘n veilige huislike atmosfeer te skep waar hierdie kinders kan gedy.
Huisouers bestuur die huishouding soos hul eie en is verantwoordelik vir al die huishoudelike take van hierdie huishouding. As vergoeding kry hul gratis verblyf en krag. Die huis- ouers kry ook ‘n veiligheidsfooi per kind van die staat vir die kinders se behoeftes. VVA voorsien kos vir die huisouers en kinders.
Die sukses van hierdie projek word bepaal deur die huisouers en die gemeenskap. Daarom, as jy ‘n hart vir kinders het, dalk vroeg moes aftree maar nog ‘n verskil wil maak, is hierdie ‘n wonderlike geleentheid om ‘n kind se lewe aan te raak. Daar word verkieslik gesoek na ‘n egpaar as huisouers, of ‘n enkellopende dame. As jy kan help skakel Sanette Boonzaier by 079 324 0603, of stuur jou CV na vvaparys@telkomsa.net

Related Articles

Back to top button