News

Maagspieroefeninge vir jou rug soos tandeborsel vir jou tande

Maagspieroefeninge vir jou rug soos tandeborsel vir jou tande

“As ek een lewensverandering kon voorstel, is dit om van jongs af kinders te leer om maagspieroefeninge te doen en ‘n goeie strekprogram te volg. As dit so natuurlik soos tande borsel raak, sal mense baie minder rugprobleme hê in die toekoms. En onthou – dit is nooit té laat om te begin nie.”
Só gesels dr. Louwrens du Plessis, ‘n chiropraktisyn van Parys wat sedert Oktober 2018 voltyds in Parys praktiseer. Vandat hy agt jaar oud was, was hy self ’n chiro-pasiënt, en was sy eie ervaring juis sy inspirasie om eendag die beroep te kon beoefen.
Die woord “chiro” beteken “by hand” wat presies sê wat die chiropraktisyn doen – fisiese tegnieke om die ruggraat en hele lyf optimaal te laat funksioneer.
“Eintlik is chiro-behandeling in Amerika gebore en gebaseer op wetenskaplike ondersoeke”, sê dr. Louwrens, en voeg by dat die grootste wanpersepsie is dat chiropraktisyns “boos” of iets uit die Oosterse kultuur is.
Die chiropraktisyn werk hoofsaaklik met neuro-musculo skelet probleme. Terapie kan dan die fisiese manupulerende behandeling, voedingsaanvullingsadvies, oefenprogramme, spanningbeheer, elektroterapie, massering, akupunktuur en selfs traksie insluit.
Waar studeer jy?
Om as chiropraktisyn te kan praktiseer, gaan jou ses jaar agter die boeke hou vir die kursus wat in Suid-Afrika slegs by UJ en by die Durbanse Universiteit van Tegnologie aangebied word. Om te gaan studeer het jy matriek nodig met wiskunde. Daar word ook gekyk na jou M-telling en ‘n persoonlike onderhoud word met jou gevoer alvorens jy aanvaar word by een van die twee instellings.
Jy sal ‘n interne jaar moet doen, maar nie as ekstra studiejaar nie. Die interne jaar word in jou sesde jaar gedoen as internskap by die kampuskliniek. Terselfdertyd skryf jy jou tesis. Daar is ook ekstra internskap wat studente voltooi wanneer skaduwerk gedoen word. Chiropraktisyns registreer by die Allied Health Professionals Council of South Africa. Dan is daar ook die Chiropractic Association of South Africa waarvan lidmaatskap sterk aanbeveel word, sê hy.
Vaardighede waaroor ‘n chiropraktisyn moet beskik?
Omdat die beroep fisiese uitdagings aan jou sal stel, is dit belangrik dat jy na jou eie gesondheid sal kyk. Onthou dat jy fisies met mense sal werk en lank op jou voete mag wees. Daarom is dit baie belangrik om optimaal gesond te wees.
Goeie menseverhoudings is net so belangrik omdat jy pasiënte van alle ouderdomme en vlakke van die samelewing sal sien. Jy moet elke pasiënt soos jou enigste pasiënt kan laat voel.
Die uitdagings van ‘n chiropraktisyn:
Daar is baie uitdagings veral in die eerste paar jaar wat jy begin praktiseer. Jy sal moet ‘n pasiëntebasis opbou en leer om jou praktyk te bestuur, maar die belonings is baie meer as die uitdagings.
“Die verligting op mense se gesigte as hulle jou vertel hoe hulle lewenskwaliteit verbeter het te danke aan die behandeling, nadat hulle daagliks in pyn was of ander ongemaklike simptome ervaar het, maak elke dag in die spreekkkamer die moeite werd.”
Waar sal ‘n chiropraktisyn werk:
Chiropraktisyns werk slegs privaat en sal jy jou eie praktyk moet begin of by ‘n bestaande praktyk moet inskakel. Dus het jy die keuse om vir jouself te kan werk. Daar is ook baie internasionale geleenthede, en beide universiteite se grade het internasionale akkreditasie.
Meer oor dr. Louwrens:
Dr. Louwrens is ‘n man wat passievol is om mense te help. Dan beskryf hy ook homself as ’n regte boekwurm en ernstige versamelaar van boeke. Hy draf graag in die natuur met sy honde om gesond en fiks te bly. En dan is Playsta-tion vir hom ‘n lekker manier om te ontspan en bietjie “af te skakel”. Hy het gematrikuleer aan Fourways High School en sy graad by UJ verwerf. Hy praktiseer die afgelope vyf jaar.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button