NewsNews

Uitstalling wys effek van wêreld se grootste impakkrater

Die Vredefort Koepel het sowat 2000 miljoen jaar gelede ontstaan toe ‘n meteoriet met ‘n deursnee van sowat 10km, die aarde getref het.

Einde ten laas sal besoekers aan die Vredefort Koepel ‘n volledig wetenskaplike uitstalling van die ontstaan van die Koepel kan sien in die Parys-museum, danksy die Geologiese Vereniging van Suid-Afrika, en ‘n borgskap van die Oppenheimer Trust.
Wêrelderkende geo-kunstenaar en Parysenaar, Maggie Newman, in samewerking met die tweelingbroers, professors Morris en Richard Viljoen, het daarin geslaag om op visuele, tog maklik verstaanbare wyse die geologiese en historiese waarde van een van die wêreld se oudste en grootste meteoriet-impakkraters uit te beeld, met verskeie foto’s, kaarte, diagramme en rotsmonsters uit die Vredefort Koepel.

Die tweelingbroers, professors, Morris en Richard Viljoen, hard aan die werk met die finale beplanning vir die geologiese uitstalling van die Vredefort Koepel impakkrater vir die Parys-musuem.
Daar is vandeesweek begin met finale werk aan die museum-uitstalling.
Daar word verwag dat die uitstalling reeds so gou as met die aanvang van die Junie-skoolvakansie deur die publiek gesien kan word.
Ongelukkig was tot dusver min inligting oor hierdie geologiese wonder en erfenis-juweel plaaslik beskikbaar vir die talle mense wat jaarliks na die gebied kom. Die gebied is deur Unesco tot Wêrelderfenisgebied verklaar.
Uitstekende toere van die gebied is beskikbaar, maar sal hierdie uitstalling ‘n waardetoevoeging tot toerisme vir Parys en Vredefort bied.
Die uitstalling was aanvanklik beplan vir die Vredefort Interpretasie Sentrum. Die sentrum is egter nou net ‘n skandelike R24 miljoen verleentheid langs die Parys/Vredefort-pad. Die gebou staan na jare steeds leeg en vervalle terwyl borde toeriste daarheen lei.
Die gebou is in Augustus 2008 voltooi, maar was bouwerk so swak dat dit nooit in gebruik geneem kon word nie omdat dit as onveilig beskou is. Sedertdien het dit ook verval in die hande van plunderaars.
Met ‘n inspeksie van die terrein op 29 April, het dr. Roy Jankielsohn, DA Parlementêre leier, en leier van die opposisie in die Vrystaatse Wetgewer, opgemerk dat nog die nasionale, nog die provinsiale regering verantwoordelikheid wil aanvaar vir die enorme geldvermorsing wat bedoel was om toerisme in die Vrystaat ‘n hupstoot te gee.

Related Articles

Back to top button