NewsNews

Atleet plaas lyf op die spel om skelm te fnuik

“Almal was so bly dat ek die sak kon terugkry en daardie aand het ons iets saam gaan eet om dit te vier,” sê Stadler, wat komende naweek reeds uitsien na ‘n atletiekbyeenkoms in Pretoria.

In Potchefstroom dra superhelde nie mantels nie, maar eerder spykerskoene.
Hierdie stelling is bevestig nadat Parysenaar en plaaslike NWU-atleet  Johan Stadler (18), ‘n skelm te voet met spykerskoene gejaag het om sy oefenmaat se sak vol waardevolle besittings terug te besorg.
Stadler het dié skelm by die brug op die N12 by die Ikageng-afrit opgespoor, waarna hy hom hom, kaal bolyf en al, agterna gesit het.
Toe dié skelm met die sak by die brug afspring, is Stadler sonder om te huiwer agterna. In die proses het hy sy regterbeen oopgeval waarna hy 12 steke moes kry. In die oomblik het die adrenalien so gepomp dat Stadler beswaarlik van dié groot sny bewus was. Gelukkig vir hom het die skelm die sak verloor. Met ‘n bofbalkolf in die hand het hy die skelm twee keer laat dink.
“Dit is eintlik ongelooflik dat ons die sak teruggekry het. Toe hy sien dat ek gewapen is, het hy in die bosse in gehardloop. My oefenmaat se beursie en skoene was nog in die sak, so almal was na die tyd baie bly.

Ek voel dat jy aan ander moet doen soos wat jy aan jouself gedoen wil hê. My ouers was geskok toe hulle van my been hoor, maar ook bly dat ek uit my pad uit gegaan het om my medemens te help,” noem die eerstejaar wat B.Sc meganiese ingenieurswese aan die NWU studeer.
Volgens hom het alles so vinnig gebeur.

Verlede Dinsdag omstreeks 17:30 nadat Stadler en sy spanmaat, Pieter Conradie, klaar geoefen het by die stadion, het hulle afrigter Jean Verster se vrou Alta, opgemerk dat Henco Uys, nog ‘n Parysenaar se bakkie se agterruit uitgeslaan is. Stadler en Conradie het besluit om in laasgenoemde se bakkie te spring en die skelm te gaan soek. “Die een langafstandatleet, Boerseun (Tumisang Monnatlala), het gesien dat die skelm met die neongeel Nike-sak weghardloop en hy is toe agter hom aan.
“Ek en Pieter spring toe in sy bakkie en ry om die skelm te gaan soek,” vertel hy.
Volgens Stadler het hulle besluit om in die rigting van Ikageng te ry en te kyk of die skelm nie moontlik op daardie brug sou wees nie. Hulle het hom toe op die brug gesien (met Henco se unieke Potch Track Club-hemp aan). Stadler het uitgespring en hom te voet agterna gesit. Conradie kon weens padreëls nie op die brug stop nie en moes toe aanhou ry om nie die verkeer te blokkeer nie. “Toe hy my sien het hy van die brug afgespring en dadelik van die wal afgerol. Ek kon darem nog ‘n paar tree inkry voor ek my balans met my spykerskoene aan teen die steil afdraande verloor het. Ek moes myself teen iets gesny het daar,” vertel Stadler, wat van Parys afkomstig is.
“Die wond was tot op die skeen gewees so die vlies aan die binnekant en vel aan die buitekant moes geheg word. Dit het 12 steke geneem om toe te werk,” vertel Stadler, wat na ‘n uur se behandeling in Mooimed Hospitaal weer op die been was.
Bebloed en gekneus het hy ‘n helde ontvangs van sy mede Potch Track Club-atlete na dié episode gekry.
“Almal was so bly dat ek die sak kon terugkry en daardie aand het ons iets saam gaan eet om dit te vier,” sê Stadler, wat komende naweek reeds uitsien na ‘n atletiekbyeenkoms in Pretoria.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button