NewsNews

Motorfietsryers maak ’n verskil vir kinderhuis

Maak nie saak hoe klein nie - jy kan ‘n verskil maak!

Nagenoeg 2 500 motorfietsryers het die afgelope naweek gesorg vir ‘n stampvol Mimosa Tuine met die jaarlike Dome Rally in Parys. En terwyl Parysenaars se opinie gewissel het oor dié besoekers, het hulle ‘n verskil gemaak in die lewens van 70 kinders van die Paul Kruger-kinderhuis in Reddersburg.
Die motorfietsryers het die blikskud van ‘n Parys-meisie, Dominique Douglas, ondersteun, wie se oogmerk vanjaar is om minstens R40 000 vir die kinderhuis in te samel. Die naweek het sy danksy die motorfietsryers ‘n aansienlike bedrag kon insamel om heelwat nader aan haar doelwit te kom.
Die geld wat Dominique insamel gaan onder meer vir die oordoen van die senior dogters se kamers. Hierbenewens help haar bydrae ook met talle ander omgee-geskenkies vir onder meer Kersfees en verjaarsdae van die kinders, toiletbenodigdhede, skryf- en skoolbehoeftes, en ander bederfpakkies.
Dominique se familie se betrokkenheid by die projek strek oor vyf geslagte. Alles het by ouma Anna du Plooy begin nadat sy in 1996 ‘n rugoperasie ondergaan het. Depressief en met ‘n gevoel van waardeloosheid omdat sy nie meer kon doen wat sy altyd gedoen het nie, het sy op Kersoggend die ingewing gekry vir die projek om so offergawes van liefde aan minderbevoorregtes te gee.
So is Ouma Anna se Kinderhuisprojek gebore toe sy begin het om aan elke kind van dié kindershuis ‘n verjaardagkaartjie te stuur.
Met ondersteuning van familie en die Patmos Bybelstudiegroep het die projek met ywer en entoesiasme gegroei sodat ook ‘n geskenkie saam met die verjaardagkaartjie gestuur kon word. Skiellik was sy ouma van 70 kinders op ‘n plattelandse dorpie en het die projek bly groei danksy borge en ondersteuners.
Met haar dood in 2010 op 89-jarige ouderdom het haar dogters, Janet du Plooy en Elna Clark, met die projek tot haar nagedagtenis voortgegaan.
ʼn Suksesvolle papierherwinningsprojek help om die fondse in te samel vir die projek. Met die geld uit die herwinningsprojek word ook nie-bederfbare voedsel in groot maat aangekoop en aan die kinderhuis jaarliks geskenk.


Vanjaar is die projek 23 jaar oud en is Dominique, ouma Anna se agterkleinkind, sedert 2015 die dryfveer agter die verskil wat in hierdie kinders se lewens gemaak word. Die Paul Kruger Kinderhuis is onder die versorging van die Gereformeerde Kerk se Sinodale Deputate vir Diakonale Sake. Die kinderhuis huisves ʼn gemiddeld van 70 kinders tussen die ouderdomme van 2 en 18 jaar. Dominique vertel dat sy die oggend die pad na Reddersburg in die wind en weer saam met Elna en Janet aangepak het. Daardie naweek het sy ‘n ander deel van die lewe gesien en is die saadjie geplant om ander te help. En dan die getuienis – Terwyl ons blik geskud het vir die kinderhuis, het daar iets gebeur wat ons almal se lewens verander het. Ons het gestaan en gesels met die mense wat verby ry. ’n Boemelaar het na ons toe gekom en ons het verwag dat hy ons vir ’n geldjie sou vra… Hy het nie – hy het geld in die blikkie gegooi. Maak nie saak hoe klein nie – jy kan ‘n verskil maak!

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button