NewsNews

GPF vra vir verdraagsaamheid met aanloop tot verkiesing

Politieke partye en kandidate moet in gedagte hou dat ‘n vry en regverdige verkiesing nie net gaan oor die prosesse en die tel van stemme op Verkiesingsdag nie.

Die Parys Gemeenskap Polisiëring Forum (GPF) doen ‘n beroep op die publiek van Parys en verteenwoordigers van alle politieke partye om politieke verdraagsaamheid na te streef in die aanloop tot die nasionale verkiesing op 8 Mei 2019.
Die Grondwet bepaal dat Suid-Afrika ‘n nasie is wie se grondliggende waardes universele stemreg, ‘n nasionale algemene kiesersrol, gereelde verkiesings en ‘n veelpartystelsel van ‘n demokratiese regering daarstel om verantwoordbaarheid, ‘n responsiewe ingestelheid en openheid te verseker.
Politieke regte word ook verskans in die Handves van Regte, ingevolge waarvan Suid-Afrikaanse burgers vry is om politieke keuses uit te oefen.
Die Grondwet gee dan ook aan burgers die reg op vry, regverdige en gereelde verkiesings, terwyl dit ook dieselfde burgers se reg waarborg om in verkiesings te stem, asook die vermoë om ‘n kandidaat vir ‘n openbare amp te wees, en indien verkies, die amp te beklee.
Die Verkiesingskommissie is ‘n liggaam wat deur die Grondwet ingestel is om verkiesings op alle vlakke te bestuur, wat ook die verdere rol het om te verseker dat verkiesings vry en regverdig is.
Die Kieswet bevat ‘n gedragskode ten opsigte van verkiesings, om toestande te bevorder vir vry en regverdige verkiesings, en wat ‘n klimaat skep van verdraagsaamheid, vrye politieke veldtogte en oop openbare debatte.
Die Kode verbied pertinent gewelddadige optrede, benewens die gebruik van taal wat geweld aanhits. Die Kode verbied ook die intimidasie van kandidate of kiesers, benewens die misbruik van magsposisies, bevoordeling of om die uitslag van verkiesings te beïnvloed. Individue, so wel as politieke partye, wat daarvan skuldig bevind word dat hulle die Kode ondermyn, kan ‘n boete en/of gevangenisstraf opgelê word. Uiteindelik het politieke partye ‘n plig om hul kiesafdelings te bestuur, asook die prosesse wat die aanstelling van verkiesingskandidate bepaal, ten einde te verseker dat daar geen openbare geweld plaasvind nie.
Politieke partye en kandidate moet in gedagte hou dat ‘n vry en regverdige verkiesing nie net gaan oor die prosesse en die tel van stemme op Verkiesingsdag nie. Verkiesingsuitslae moet vertroue waardig wees en daarom stel geweld, verwoesting van eiendom, moorde en beweerde intimidasie ‘n verkiesing in ‘n negatiewe lig.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button