NewsNews

Lewe deur beweeglikheid

Lewe deur beweeglikheid

Hulle is die stap na die fisioterapeut, om spiere weer soepel en sterk te kry.
En die lekkerste – wanneer jy die resultate sien. Beter lewenskwaliteit en minder pyn.
So gesels Hendrik Scheepers wat die afgelope 18 jaar biokinetikus in Parys is. Hy het destyds die praktyk van dr. Sonja Dreyer oorgekoop nadat hy na sy honneursstudie sy internskap by haar praktyk gedoen het.
Hendrik het ‘n passie vir sy beroep wat staan vir lewe deur beweging.
So werk hy ‘n oefenprogram uit vir elkeen se unieke behoeftes en kyk hy dat oefeninge korrek gedoen en aangepas word soos nodig.
Of dit nou kardiale rehabilitasie na hartomleidings is, of pasiënte wat stents gekry het weens vernoude are. Mense wat ‘n beroerte gehad het, sportbeserings, rug, knie of enkelbeserings. Selfs heup-, knie- of skouervervangings, en hulle wat sukkel met gewigsverlies en diabetes.
Die biokinetikus maak seker dat elke oefenprogram gefokus is op waar meer soepelheid, en sterker spiere nodig is vir beter beweeglikheid en lewenskwaliteit.

Waar studeer jy:
Om ‘n biokinetikus te word sal jy aan enige erkende universiteit moet studeer en uiteindelik spesialiseer in biokinetika. Vandag is daar selfs studente wat spesialiseer in die veld van kinderkinetika.
Vaardighede waaroor jy moet beskik:
* Goeie menseverhoudings.
Of dit bejaardes is, of hulle wat aktief is – jy moet met elkeen kan werk.
* Baie geduld, want soms kan rehabilitasie soos in die geval van ‘n beroerte tyd neem.
Dalk sien jy die eerste ses maande goeie vordering, daarna dalk minder). Elke geval is uniek.
* Toewyding
* Energiek. Onthou jy werk winter en somer lang ure. As jy nie energiek is nie, hoe gaan jy ander motiveer?
Frustrasies:
* Daar is geen kitsresep nie, en geen waarborge vir sukses nie, sê Hendrik. Nie vir gewigsverlies nie, nog minder vir rehabilitasie. So kan jy enige goeie oefenprogram weg eet. Wees voorbereid daarop dat jy nie altyd vinnig resultate gaan sien nie.
Meer oor Hendrik:
Hendrik het in Fochville grootgeword en skoolgegaan.
Na matriek studeer hy B.Sc aan die Pukke met Fisiologie en Menslike Bewegingskunde as hoofvakke. Met sy honneursgraad het hy in biokinetika gespesialiseer.
Hendrik is ‘n man wat self hou van aktief wees en geniet fietsry, hardloop en swem.
Beide hy en sy vrou, Nellie, is entoesiastiese fietsryers.

Related Articles

Back to top button