NewsNews

Gaan dié arende bly?

Die pragtige voël word maklik uitgeken aan sy donkerbruin veredrag en die lang vere-kuif.

Die Langkuifarend wat die afgelope maande meermale tussen Allenby- en Grensstrate in die dorp op kragpale en in hoë bome gesien is, het lesers opnuut weer hierdie week aan die raai gehad.
Die vermoede is dat die arend-paar in Grensstraat in een van die hoë bome nes gemaak het. Die arende is verskeie kere saam daar gesien, maar daar sal gewag moet word tot die volgende broeiseisoen om die vermoedens te kan bevestig.
Die Langkuifarend is ook al gereeld op die Kopjeskraalpad buite Parys gesien waar hy op een van die hoë krag-of telefoonpale sit.
Die pragtige voël word maklik uitgeken aan sy donkerbruin veredrag en die lang vere-kuif.
Lede van Feathers-voëlklub het al dikwels mooi foto’s van hom geneem.
Volgens voëlboeke kom die Langkuifarend, wat as een van die kleiner arende geklassifiseer word, redelik algemeen voor en hy is nie op die lys van bedreigde spesies nie. Hulle verkies bosse met aangrensende grasvelde, moerasse en waterstrome.
As jy in ag neem dat sy dieet hoofsaaklik uit knaagdiere, paddas reptiele en insekte bestaan, dan maak die habitat sin.
Die vraag is egter of dit moontlik is dat die Kuifkoparende hul in die dorp sal vestig? Net die tyd sal leer, maar hier is genoeg knaagdiere in die omgewing, die oop veld is nie ver nie, en voëls is baie aanpasbaar. Hul kan dus aanpas in ‘n nuwe habitat en aangesien die Langkuifarend in ‘n bepaalde gebied bly, sal Parysenaars geduldig moet wag om te sien of die dorp in dié voëls se smaak val.

Related Articles

Back to top button