NewsNews

‘Hoe slegter skurk, hoe beter die hoofkarakter’

“Akteur-wees gaan nie oor wat jy kan kry nie, dit gaan oor wat jy vir die bedryf kan gee. ‘n Ongelooflike beroepsvervulling as jy dit kan regkry om die legkaartstukke te laat pas.”

As skoolseun het hy al die videokamera laat “rol” en die “swakste” movies (lees amateur/skolier) gemaak. Sy pêlle was die akteurs, en vir 5c kon Louis as regisseur en akteur, saam met sy pêlle op die silwerdoek gesien word.
Dit is waar alles vir akteur Louis Minnaar begin het, (dis nou naas die kampvuur-storie waar hy tot die slotsom van sy roeping gekom het).
Vandag ken jy die gesig van Parysenaar Louis Minnaar uit flieks soos “Vuil Wasgoed”, “Desember”, “Against the Wild – The Great Elephant Adventure”, “Semi-soet”, “Van der Merwe PI”, “Bloedbroers” en ander. Oor die 30 filmproduksies waarin hy al gespeel het van 2005.

Sy rol in “Against the Wild – The Great Elephant Adventure”, was een van Louis Minnaar se persoonlike gunstelinge.

“A good actor is a good study”. En dit is hoe Louis sy beroep as akteur opsom. Jy moet nuwe dinge wil leer, en die lekkerste – daardie kans om te speel.
Om in ‘n verbeeldingswêreld te beweeg, met interaksie met mense op die diepste vlak. “Emosie in sy volheid.”
Dit is nie ‘n beroep wat jy doen vir geld of roem nie. Nee, jou grootste uitdaging om jouself goed te verstaan en te leer om teleurstellings te kan hanteer.
Vir Louis is die geheim van ‘n goeie akteur die resep van respek vir jou teks, respek vir jouself, en respek vir jou medewerkers en die ruimte wat jy vul. Dit alles in gelyke hoeveelhede om die storie-legkaart te bou. Al die stukkies moet pas, en dit kan net pas as jy weet dat dit nie oor jouself gaan nie, maar oor die storie.
In die 35 jaar van akteur-wees het Louis nie een hoofrol vertolk nie, want sê hy: “Ek is nie die ‘leading man’ nie. “Hoe slegter jy as skurk is, hoe beter lyk die hoofkarakter. As jy dit verstaan maak jy jouself veelsydig en professioneel.”
Oor akteur-wees:
* Die gebrek aan ‘n vaste inkomste sal jou gou die waarde van goeie geldbestuur leer.
* Akteur-wees is harde, toegewyde werk. Dit verg 10% talent, die res is harde werk.
* Jy moet mense verstaan en insig hê in hul behoeftes. Hoe anders sal jy ‘n karakter kan vertolk?
* Moet kan hou by die reëls.
* Goeie selfbestuur.
* Gefokus
* Oneindige toegewydheid vir teks leer.
* Lees met begrip.
* Jy moet jou stem ontwikkel, liggaamsbewegings kan beheer, en na jou gesondheid kyk.
Werksgeleenthede:
Daar’s altyd werk, sê Louis. “Die vraag is hoe doen jy jou voorbereiding vir ‘n lewe as akteur?”
Waar studeer jy drama?
Net sekere universiteite het nog dramaskole. Dramastudie word egter wel by Universiteite van Tegnologie aangebied en dan is daar AFDA (School for the Creative Economy) wat die hele filmbedryf saamvat. Onthou daar is verskeie beroepe in die kunste en filmbedryf. Moenie vassteek by akteur-wees nie – dink wyer, ook aan regisseurs, kameramanne, en ander rigtings in die bedryf. Belangrik is om ‘n goeie agent te hê en betrokke te wees by SAGA (Suid-Afrikaanse Gilde vir Akteurs) en WGSA (Skrywersgilde van Suid-Afrika).
Meer oor Louis:
Louis is ‘n gebore Pretorianer. Glo dit of nie, hy het na skool eers B.Prok studeer, maar dit was om ‘n kampvuur toe hy die Visrivier Canyon gaan stap het, dat “ons” besluit het, ek moet drama swot.
Die “ons” in Louis se pond was sy groot vriend, Bertie du Plessis. Bertie het sommer geweet dat Louis se ideale om predikant te word, “sal maak dat hy die kerk leeg preek”, sê hy met ‘n ondeunde lag.
Op 26 begin hy sy drama-studies aan die Pretoriase Technikon waar van die 17 eerstejaarstudente net hy, Elsabe Zietsman en Anton Dekker, hul studies voltooi.
In sy vierde jaar is hy na SUKOVS waar hy vir ‘n jaar by die Sand du Plessis-teater gewerk het. Toe het ‘n jaar se vryskut TV, radio, oorklanking en verhoogwerk gevolg waarvan hy die verhoog die meeste geniet het.
Die jaar daarna was hy vir TRUK op die verhoog, en kort daarna begin hy sy loopbaan bou as vryskut-akteur. Vandag geniet hy die filmbedryf die meeste, maar sy grootste passie is kinders.
Oom Louis se dramaskool soos almal dit ken – dit is wat hom na aan die hart lê, vertel hy oor Studio 79 in Parys. Dit is hier waar hy die afgelope 4 jaar nie net help om jong dramatalent te ontwikkel nie, maar kinders help om waarlik hulself te leer ken, want as jy jouself ken en verstaan, kan jy met jou hele menswees in ‘n karakter klim.
Dan is hy ook nog besig om ‘n filmdraaiboek te skryf.
“Akteur-wees gaan nie oor wat jy kan kry nie, dit gaan oor wat jy vir die bedryf kan gee. ‘n Ongelooflike beroepsvervulling as jy dit kan regkry om die legkaartstukke te laat pas.”

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button