NewsNews

Verpleegpersoneeltekorte: Dringende ingryping is nodig, sê Solidariteit

Solidariteit het vandag sy kommer uitgespreek oor die huidige tekort aan verpleegpersoneel en die nadelige gevolge wat hierdie kritieke tekort op Suid-Afrikaanse gesondheidsorg het.

 

Volgens die betalings- en personeeladministrasiestelsel, Persal, se ratio van verpleegpersoneel tot bevolking wat die openbare gesondheidsorgsektor besoek, is daar een verpleegster vir 401 mense. “Uit dié statistiek is dit duidelik dat verpleegkunde as beroep in gevaar is in Suid-Afrika, maar die impak daarvan op goeie gesondheidsorg vir miljoene Suid-Afrikaners is byna ondenkbaar,” het Hennie Bierman, hoof van Solidariteit Beroepsgildes by Solidariteit gesê.

Bierman wys daarop dat die lewering van gekwalifiseerde verpleegkundiges in al die verpleegkategorieë vanaf 2013 met byna 40% gekrimp het. “Daar het sedert 2013 jaarliks ongeveer 8 535 minder verpleegkundiges tot die werkmag toegetree en die privaat sektor trek ook swaar,” het Bierman gesê.

Swaar werkslading, lang ure, uitdagende werksomstandighede, die gebrek aan ondersteuning asook die tekort aan finansies en toerusting dra onder meer by tot die huidige verpleegtekorte. Bierman sê voorts dat die nuwe riglyne van die departement van staatsdiens en administrasie met betrekking tot vroeë aftrede nog groter probleme vir verpleegkunde teweeg gaan bring. “Tans is daar meer verpleegpersoneel wat bedank of aftree as studente wat opgelei kan word om die werksmag te betree. Altesaam 14 043 van die huidige verpleegkundiges kwalifiseer nou ingevolge die departement se nuwe beleid vir vroeë aftrede,” het Bierman gesê.

Volgens Bierman moet intense beplanning en voorbereiding vir die toekoms gedoen word om die druk en spanning op huidige verpleegpersoneel te verlig en die beroep tot wêreldklasstandaarde te ontwikkel. Om sake te vererger is daar in die laaste drie jaar geen nuwe private instelling geakkrediteer om verpleegkundiges op te lei nie, en in sekere van die verpleegsterskategoriëe het akkreditasies reeds by bestaande instansies verval. “Die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging (SARV) het ook ʼn duidelike afname in afgestudeerde studente bevestig. In 2016 was die afgestudeerde studente 21 571 teenoor 13 036 in 2017. Dit is ʼn afname van meer as 8 000 in een jaar,” sê Bierman.

Die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) het ʼn omvattende verslag saamgestel waarin hy die belangrikste aspekte en standaarde wat internasionaal vir die beroep neergelê word, deeglik bespreek. “Die Solidariteit Beroepsgilde vir Verpleegkundiges wil hande vat met die departement van gesondheid, die SARV, en ander rolspelers om volhoubare oplossings te vind vir probleme rondom ontoereikende opleiding en die aantal afgestudeerde studente, poste wat nie gevul word nie, swak werksomstandighede en ander bydraende faktore wat hierdie edele beroep op sy knieë dwing,” het Bierman gesê. “Ons nooi hierdie drie rolspelers uit om saam met ons ʼn hoë kwaliteit van gesondheidsorg te help verseker.”

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button