NewsNews

Omgeeharte gee skadu vir skool se leerders

Omgeeharte gee skadu vir skool se leerders

Dit was nie boomplantdag nie.
Net omgeeharte van ‘n maatskappy se bestuur en werkers, wat gesorg het vir die gewoel Maandagoggend op die skoolterrein van die Dome Primary School in Loopstraat, Parys. Hier is 30 bome, meestal inheems, geplant om skadu te gee vir die 206 graad R tot graad vyf-leerlinge van dié skool.
Die projek is aangepak deur Redco wat onder meer rehabilitasie van mynhope en stormwaterbeplanning doen.
So in die verbyry daagliks het hulle gesien hoe nodig koelte op die skoolterrein is. Toe is begin met intensiewe beplanning vir dié langtermynprojek wat terselfdertyd ook ‘n spanbou-aksie sou wees. Kaarte van die skoolterrein is gekry, grondtoetse gedoen en waterbeskikbaarheid in ag geneem. Die besluit op enkele uitheemse bome is net geneem omdat hulle vinnige groeiers is wat gouer koelte sal gee – die res van die bome is inheems.


Volgens Antoinette Scheepers, een van die maatskappy direkteure, sal hul moontlik later ook kyk na besproeiing op die skoolterrein en om nog meer bome te skenk.
Die afgelope twee jaar het vrywilligers gehelp om die skooltuin in stand te hou omdat daar nog nie geld beskikbaar was om iemand aan te stel nie. Die skool kon intussen ’n tuinier aanstel en hy sal sorg dat die bome water kry danksy nog ‘n kraan wat ook deur Redco op die skoolterrein geinstalleer is.
Sedert die Dome Primary School twee jaar gelede sy deure oopgemaak het in Loopstraat, het talle hande al uitgereik na dié skool.
Die skool se naambord, tuinslange, verf, gereedskap en benodigdhede vir instandhouding, blomsaad, plante, bome, kompos, speelgoed, lêers, skryfbehoeftes vir onderwysers en leerders, ‘n rekenaar en drukker, boeke, en selfs ‘n kitaar is al geskenk. Weldoeners het al gehelp om die skool se sypaadjie en leivore skoon te maak, instandhoudingswerk te doen, en selfs om leerders te toets en leesremediëring en ouerbemagtigingsessies aan te bied. Dan is ‘n jaar se skoolfonds vir ‘n behoeftige leerder ook betaal,

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button