NewsNews

Tegnologie ‘speurders’ hou hul oë en ore op die grond

Tegnologie ‘speurders’ hou hul oë en ore op die grond

Hier’s jou kans om soos ‘n wafferse Sherlock Holmes fyn speurwerk te doen.
Of dit farmakologie, petrochemies of inligtingstegnologie is. Hulle is die speurders wat hul oë en ore op die grond moet hou, want vandag is dit vir enige maatskappy – veral ‘n tegnologiese maatskappy, belangrik om ’n kompeterende voordeel bo sy mededingers te hê.
Dit is hier waar die Intellektuele Eiendom (IP) Tegniese Adviseur inpas, gesels Delanie Lamprecht van Parys. Delanie is ‘n IP Tegniese Adviseur vir Sasol.
Wat doen ‘n IP Tegniese Adviseur:
Soos ander IP Tegniese Adviseurs, is dit haar taak om toe te sien dat ‘n kompeterende voordeel gekry en behou word deur byvoorbeeld gedurig te innoveer, want maatskappye moet met nuwe idees vorendag kom en dit dan kan beskerm voor, tydens en na kommersialisering.
Delanie werk nou saam met die tegniese span van navorsers, wetenskaplikes of ingenieurs, en patentprokureurs om daardie een stap voor te bly met ontwikkeling van nuwe idees vir patentering.
‘n Patent is ‘n regsdokument wat ‘n maatskappy kan gebruik om mededingers uit die veld te hou, of om hul tegnologie te lisensieer aan ander.
Voordat gewerk word aan so ‘n patent, moet seker gemaak word dat niemand anders reeds die idee gepatenteer het nie.
Daarom moet die IP Tegniese Adviseur die nodige tegniese voorbeelde aan die patentprokureur deurgee as bewys van dit waarop jy aanspraak maak.
Maatskappye moet ook weet wat hul mededingers doen. Die IP Tegniese Adviseur doen gereeld speurwerk (intelligensie werk) om op hoogte te bly van die patentlandskappe van mededingers om te weet hoe hul nuwe tegnologie vergelyk met die maatskappy vir wie jy werk, se tegnologie.
So word seker gemaak dat jou mededingers nie dalk inbreuk maak op jou tegnologie nie, en of jou maatskappy se voorgenome kommersiële bedryf of produkte nie die risiko loop om inbreuk te maak op ander se patente nie.
’n Tipiese dag van ‘n IP Tegniese
Adviseur:
Jy sal nuut gepubliseerde patente bestudeer om potensiële risiko’s te identifiseer; skakel met die tegniese gemeenskap om nuwe innovasie te identifiseer; die patentprokureur ondersteun in patentprosekusie (proses om ‘n patentkantoor te oortuig van die geldigheid van jou patente), en die bestudering van patentliteratuur vir tegnologie tendense
Vaardighede wat jy sal nodig hê:
* Goeie tegniese insig in die betrokke veld
* Analitiese denke
* Vermoë om tegniese argumente goed te verwoord
Belangstellings:
* ‘n Voorliefde vir innovasie, ontwikkeling van nuwe tegnologie, en gestruktureerde, sistematiese argumentering.
Waar kan jy opleiding kry:
Daar is geen direkte opleiding om jou te bekwaam as ‘n IP Tegniese Adviseur nie.
Hierdie beroep is soos die patentprokureur, ideaal vir vasbyters. Jy moet eers jou tegniese kwalifikasie in die wetenskappe of ingenieurswese kry by enige tersiêre instansie, verkieslik tot op nagraadse vlak.
Daarna sal jy jou eers in die veld van navorsing/tegnologie ontwikkeling moet vestig, voordat jy indiensopleiding sal ontvang in jou rol as IP Tegniese Adviseur.
Daar is wel instansies soos UNISA en WIPO (World Intellectual Property Organisation) wat kursusse aanbied in IP beginsels.
Werksmoontlikhede:
Enige maatskappy wat deur middel van innovasie nuwe produkte of prosesse in die mark plaas, neem IP Tegniese Adviseurs in diens.
Verder beoog die Suid-Afrikaanse patentkantoor om ‘n eksaminasieproses te implementeer waar IP Tegniese Adviseurs ook as eksaminatore van patente kan optree.
Maak jou reg vir dié uitdagings:
Vir Delanie bly die grootste uitdaging in haar beroep om die wêreld van die innoveerder en die patentprokureur by mekaar uit te bring. Om die kopskuif te maak van suiwer wetenskaplike redenasie, na argumentering volgens die riglyne van patentbeginsels.
Om “speurder” te speel van ander maatskappye se tegnologieposisie, geniet sy sommer baie, maar dit kos soms harde bene kou om ‘n tegniese persoon te verduidelik dat, hoewel sy/haar innovasie waardevol is vir die maatskappy, dit nie ’n patenteerbare konsep is nie.
Meer oor Delanie:
Delanie het haar Ph.D in Chemie by die Umiversiteit van die Oranje Vrystaat verwerf in 1999 terwyl sy lektor was in Fisiese Chemie by die universiteit.
Haar loopbaan as wetenskaplike by Sasol Olie het in 2001 begin waar sy deel was van ‘n span wat seker maak dat Sasol se brandstowwe aan markvereistes voldoen.
Sy is baie lief vir die natuur en doen wildfotografie as stokperdjie.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button