NewsNews

Facebook-krisis: ‘My eks het my laat verban!’

‘n Donker 17 ure vir Facebook-verslaafdes

Vaalweekblad berig:

VAALDRIEHOEK. – Meer as 60 plaaslike Facebook-gebruikers het Vaalweekblad Woensdag en Donderdag, 13 en 14 Maart, ge-SMS of gebel om te vra of ons weet wat aangaan…. Hulle kon skielik geen nuwe boodskappe op Facebook plaas nie en talle se WhatsApp het ook nie soos gewoonlik gefunksioneer nie.
Van dié inbellers het ruiterlik erken dat hulle Facebook-verslaafdes is wat onttrekkingsimptome kry as hulle nie kontak met hul honderde vriende op sosiale media kan maak nie.
“Ek dink dis my eks wat my laat verban het,” het een vrou gekla. Nog ‘n ma het gedreig om haar 14-jarige dogter ‘n loesing te gee omdat sy vermoed haar ‘soms rebelse’ dogter het iets daarmee te doen gehad. ‘n Vereenigingse sakeman wou paniekerig by Vaalweekblad hoor of ons weet wat aangaan. Hy het vermoed ‘n mededingende sakeonderneming het dalk toegang tot sy Facebook-rekening gekry en hom “geblok” om verder te adverteer.
Gelukkig kon Vaalweekblad die inbellers gerusstel voordat hulle onomkeerbare skade aan hul verhouding met gesinslede of mededingers kon aanrig! Niemand wou jou ‘n streep trek of van Facebook af verban nie. Die rede waarom niemand nuwe “posts” kon plaas nie, was omdat Facebook Woensdag en Donderdag vir sowat 17 uur sy grootste onderbreking tot dusver beleef het. Ander verbandhoudende dienste soos WhatsApp, Instagram en Messenger is ook deur die onderbreking geraak.
Dit blyk dat Facebook-lesers dwarsoor die wêreld deur die onderbreking getref is. Dié sosiale-media reus het tans meer as 2 biljoen gebruikers. Die vorige keer wat Facebook ‘n algehele onderbreking gehad het, was in 2008, toe daar nog net 150 miljoen gebruikers was.
Facebook het gister in ‘n verklaring gesê hulle is bewus daarvan dat mense tans sukkel om toegang tot die diens se toepassings (apps) te kry, maar hulle werk daaraan om die probleem so gou as moontlik op te los. “We’re very sorry for the inconvenience and appreciate everyone’s patience,” het Facebook gesê.
Teen Donderdagaand was alles skynbaar terug na normaal.
Facebook sê die probleem was nie te wyte aan kuberkrakers nie maar weens ‘n bediener-konfigurasieverandering (server configuration change).
Daar word geskat dat sowat 2 biljoen individue en sakeondernemings daagliks inligting op Facebook pos.
In hierdie stadium is dit nog onbekend wat Facebook se geldelike verlies weens die onderbreking gaan wees aangesien die diens se advertensie-koppelvlakke (interfaces) ook tydelik ontoeganklik was.

 

LATEST NEWS

Related Articles

Back to top button